Hoekom die bohaai?

As dit by Afrikaans as taal kom, wonder mens net waaroor al die bohaai is.
Net soos die Latynse tale, Italiaans, Spaans, Frans en Portugeus afstam van die oorspronklike Latyn, is daar die Germaanse tale wat onder andere insluit Engels, Norweegs, Deens, Vlaams, Nederlands, Duits, Afrikaans en selfs Yiddish, die taal wat in Israel gepraat word. Hiervan is Afrikaans as ‘n taal wat aan wêreldnorme in terme van sy woordeskat, woordeboek en onderwystaal tot op universiteits- en regsvlak as wêreldtaal aanvaar word, die mees modernste en nuutste toevoeging tot die wêreld se taalskatkis.
Net soos Latyn heeltemaal uitgesterf het, is daar net een Germaanse taal wat dit nie gemaak het nie – Goties (Gothic) vir diegene wat nie eens geweet het dat daar so ‘n taal bestaan het nie. Al wat meeste mense van Gothic weet is hul kinders wat eweskielik in swart geklee en met snaakse swart grimering vir die aand uitgaan.
Dit is nie net die Afrikaanse liedere wat die taal sal laat oorleef nie. Eerder alles wat Langenhoven in sy lewe geskryf en die talle afrikaanse skrywers wat na hom gekom het. Afrikaans het tegniese terme, hofterme, noem dit maar. Alles wat ‘n taal ‘n wêreldtaal maak, daaroor beskik Afrikaans.
Afrikaans is reeds so gevestig dat dit wêreldwyd as ‘n moderne taal erken word, juis om bogenoemde redes.
Net soos eerstewêreldtale wat deesdae gepraat word uit Latyns of Germaans ontwikkel het is Afrikaans die taal wat aanhou ontwikkel het teenoor Nederlands wat gestagneer het en, soos tegnologie ontwikkel het, verkies het om meer op leenwoorde staat te maak in plaas daarvan om nuwe beskrywende woorde te vind soos wat Afrikaans in sy woordeskat opgeneem het. Hier hoef mens maar net aan ‘n paar woorde te dink wat as die alledaagse woord in Nederlands gebruik word soos computer (rekenaar), party (partytjie), veel (baie), en nog baie meer. Mens wonder steeds oor woorde soos knormoer (starter motor) en poespas (‘n deurmekaarspul), maar dis oorspronklik Afrikaans.
Daarby is nuwe woorde, veral op tegniese- en onderrigs-vlak gevind soos in ingenieurswese met aërodinamika wat die beweging van die vliegtuig in die drie vlakke om sy swaartepunt definieer, hei (pitch), gier (yaw) en rol (role), hul plek gevind het. So is daar talle meer in al die tegniese vlakke wat ‘n omskrywing in ‘n nuwe taal gevind het. Van alle Afrika tale is dit die enigste een wat hierdie status bereik het. Daar is tegniese woordeboeke, verklarende boeke van etlike volumes, mediese handboeke, noem dit maar alles in Afrikaans. Geen ander Afrika taal kan hom dit nadoen nie en sal uitsterf nog voordat hulle helfte bereik het van tot waar Afrikaans gegroei het. Net soos ‘n kultuur moet lewendig bly deur te groei, bly die taal ook lewendig want hy groei steeds soos die tegnologie vorder.
Afrikaans lewer steeds die meeste skrywers (wie se boeke gekoop en gelees word), die meeste populêre musiek (wat aangekoop word), die grootste dorpsfeeste (wat ondersteun word) en die meeste tydskrifte en koerante wat in Suid-Afrika gepubliseer word.
Afrikaans is reeds ‘n wêreldtaal. Dit is ‘n status wat die SABC met geen poging wat ook al, hom gaan ontneem nie. Geen politieke party (ingesluit die wat hulle voorgee as die behouers van Afrikaans) sal die taal ooit van sy status kan ontneem nie.
Praat Afrikaans, sonder om dit op nie-Afrikaanssprekendes af te dwing nie. Wees trots op Afrikaans en moet jou naam nie gat maak in hierdie taal nie. Dit is beslis die taal met die meeste toepaslike vloekwoorde. Daarby is dit uiters beskrywend.

Internet verwysing: most widely spoken Romance (Latin) languages by number of native speakers are Spanish(386 million), Portuguese (216 million), French (75 million), Italian (60 million), and Romanian (25 million)
Germanic languages: English, Icelandic, Faroese, Norwegian, Swedish, Danish, Frisian, Flemish, Dutch, Afrikaans, German, and Yiddish are the living languages that are part of the Germanic family.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur