Thabazimbi se drinkwater weer op standaard

AfriForum het die uitslae van watertoetse ontvang wat bevestig dat Thabazimbi se drinkwater weer op standaard is. Dít kom nadat dié burgerregte-organisasie ’n aanmaningskrywe aan die plaaslike munisipaliteit gerig het om die watergehalte dringend te verbeter.
AfriForum het saam met die skrywe voorstelle aan die munisipaliteit gemaak oor hoe om die probleem op te los.
“Ons is bly om te sien dat die munisipaliteit die probleem as dringend geag en die saak met erns aangepak het. Die toestand van die water sal deurlopend gemonitor word om te verseker dat skoon drinkwater volhoubaar aan die gemeenskap voorsien word,” het Morné Mostert, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo, gesê.
Skoon drinkwater is ’n grondwetlike reg en dit is die regering se plig om hierdie basiese hulpbron aan die gemeenskap te voorsien. Om te verseker dat die gehalte van die water op standaard is, neem AfriForum watermonsters na ’n onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratorium vir toetsing.
“Die huidige situasie insake die rioolplaas word ook ondersoek en ons hoop dat die munisipaliteit die probleem ook met erns sal hanteer. Dié projek het groot implikasies wat selfs tot strafregtelike klagtes kan lei,” sê Mostert.
Sluit aan by AfriForum vir beter dienslewering en SMS die naam van jou dorp na 45340 (R1).