Kraglyne bedreig skaars spesies

Die meeste gebruikers van elektrisiteit kan hul nie die lewe daarsonder voorstel nie. Min mense besef egter dat die kraglyne wat hierdie kosbare hulpbron tot by ons huise bring, dodelik is vir sekere soorte diere en voëls. Onderbrekings wat deur diere veroorsaak word, veral voëls wat doodgeskok word, kos vir Eskom elke jaar miljoene rande om te herstel. Buiten vir die ongerief of selfs finansiële verlies vir kliënte wanneer die kragvoorsiening onderbreek word, word baie van ons pragtige voëls, byvoorbeeld Breëkoparende, Lelkraanvoëls,alle spesies aasvoëls, Sekretarisvoëls, poue en selfs ons nasionale voël, die Bloukraanvoël, ernstig benadeel. Die Lelkraanvoël is reeds in ernstige gevaar om uit te sterf in Suid-Afrika en die verlies van selfs ‘n enkele voël het ‘n nadelige uitwerking op die spesie se vermoë om te oorleef.
As gevolg van die ernstige gevolge vir die natuurlewe en om ‘n betroubare diens aan alle elektrisiteitsgebruikers daar te stel, het Eskom en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) in 1996 kragte saamgespan met die doel om die negatiewe wisselwerking tussen voëls en kraglyne op ‘n stelselmatige wyse te verminder. Hierdie werkgroep van die EWT staan bekend as die Natuurlewe en Energie Program (WEP). Een van die steunpilare waarop die vennootskap gebaseer is, is openbare deelname. Die wisselwerking tussen voëls en Eskom se kraglyne kan net doeltreffend aangespreek word, indien dit gerapporteer en ondersoek word.
Die Vennootskap poog dus om botsings met die lyne en die doodskok van voëls op kraglyne te verminder en om te verseker dat strukture wat in die toekoms opgerig word so voëlvriendelik as moontlik is. Alle insidente wat aan WEPgerapporteer word, word in die Vennootskap se Sentrale Voorvalleregister aangeteken. In hierdie register is reeds meer as 3 000 insidente opgeteken waarvan net minder as 10% Ludwigse Poue is. Hierdie voorvalle is slegs ‘n fraksie van die voorvalle wat wel plaasvind, aangesien alle kraglyninsidente nie gerapporteer word nie.
In Suid-Afrika is ongeveer 37 000 km groot transmissielyne en ongeveer 500 000 verspreidingslyne en telefoonlyne. Aangesien daar nie genoeg inligting oor die insidente bestaan nie, is dit onseker wat die uitwerking van die baie sterftes op die voëlbevolkings is, maar 10-20% sterftes per jaar is nie volhoubaar nie en sal die uitsterwing van die spesies beteken.
Spesies
Spesies wat die meeste deur kraglyne gedood of beseer word, is die groot grondlewende voëls wat die poue, kraanvoëls, flaminke, sekretarisvoëls en ooievaars insluit. Groot voëls wat op verspreidingslyn strukture doodgeskok word, is arende en aasvoëls. Die meeste van hierdie spesies word in Eskom se Rooidataboek vir Voëls van Suid-Afrika, Lesotho en Swaziland (2014 in druk) as kwesbaar of bedreig gelys.
Redes vir botsings
Voëls gebruik vlugroetes wanneer hul van hul slaapplekke na hul weidingsgebiede vlieg. Indien hierdie vlugroetes deur valleie of laagliggende gebiede gaan en daar ‘n kraglyn deur die gebied gaan, sal daar beslis ‘n gevaarsone wees waar baie botsings sal plaasvind. Die groot transmissielyne is op dieselfde hoogte waarop hierdie groot voëls vlieg en al sien hul die kragkabels en vlieg bo-oor dit, bots hulle met die aarddraad. Aangesien hulle groot en swaar voëls is, kan hul nie vinnig genoeg uitswenk om die lyne te vermy nie. Hulle is dus nie in staat om koersaanpassings te maak terwyl hul vlieg en skielik by ‘n kraglyn kom nie. Gompoue, wat van die wêreld se swaarste vlieënde voëls is, vlieg nie so maklik en vinnig op soos die Ludwigse Poue nie en dit is waarskynlik die rede waarom daar minder Gompoue as Ludwigse Poue onder die kraglyne gevind word. Ludwigse Poue kom ook in groter groepe voor en dit is nog ‘n rede waarom baie van hulle onder kraglyne gevind word. Die hoek waaruit die voëls kyk, kan ook ‘n rede wees waarom hul nie die lyne sien nie.
Wat word gedoen?
Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) en Eskom het ‘n vennootskap om die probleme rondom kraglyne aan te spreek. Indien enige kraglyninsident aangemeld word, word ‘n veldwerker van die Trust uitgestuur om dit te ondersoek. ‘n Verslag word saamgestel en Eskom beveilig die strukture deur flappers op die lyne te plaas om dit meer sigbaar te maak. Kragpale en transformatorkaste wat gevaarlik is vir aasvoëls en groot roofvoëls word ook veilig gemaak deur insulasie aan te wend op die strukture.
Hoe kan u help?
Enige persoon wat dooie voëls onder kraglyne of onder transformators kry, kan dit aan Constant Hoogstad van die Natuurlewe en Energie Program (WEP) van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe rapporteer by constanth@ewt.org.za en telefoon 011-372 3600. Hul sal een van hul veldwerkers uitstuur om die insident te ondersoek. Die webtuiste van die Trust vir Bedreigde Natuurlewe is www.ewt.org.za.