Thaba verloor sy oudste – Soos onthou deur Pieter Coetzee – Redakteur Kwêvoël

Anton Kemna (88), alombekende oud-sakeman, juwelier en horlosiemaker destyds as eienaar van AC Kemna op Thabazimbi.
Anton Kemna (88), alombekende oud-sakeman, juwelier en horlosiemaker destyds as eienaar van AC Kemna op Thabazimbi.

THABAZIMBI – Die dorp het Dinsdagoggend seker sy oudste inwonende inwoner verloor met die afsterwe van oom Anton Kemna (88). Anton is Dinsdagoggend, 1 Julie, in die hospitaal op Thabazimbi oorlede, nadat hy die vorige dag opgeneem is.
Hy en sy eggenote, Jenny, het gedurende die vroeë vyftiger-jare as jong getroude paartjie na Suid-Afrika geïmmigreer, om meer presies te wees, hulle het op 10 Mei 1954 voet aan wal in Suid-Afrika gesit, slegs sowat drie maande na hul huweliksbevestiging op 25 Februarie 1954 in Nederland. Mettertyd het hulle hul op Chromite net buite Thabazimbi gevestig. Anton is op 23 November 1925 in Amsterdam, Nederland, gebore en het ook daar sy skoolloopbaan voltooi.
Anton was ‘n elektroniese ingenieur en horlosiemaker en het sy talente aan Thabazimbi en omgewing beskikbaar gestel. Destyds het die treine nog op ‘n gereëlde grondslag tussen Thabazimbi en Rustenburg geloop. Selfs die goedere treine het sitplek in die kondukteurs-wa, die laaste wa aan die trein, gehad. Anton en Jenny het bykans elke dag op hierdie trein tussen hul woning en Thabazimbi gependel, waar hulle basies ‘n deur tot deur diens aan hul kliënte gelewer het.
Soos hulle besigheid gegroei het, het hulle later ‘n huis in Thabazimbi gekoop en ‘n juwelierswinkel in Tweedelaan Thabazimbi ge-open. (Op dieselfde perseel waar die Pinkster Protestante Kerk tot onlangs hul kerkdienste gehou het.) Daarmee saam was hulle ook een van die eerste winkels in die dorp wat skryfbehoeftes op hul rakke aangehou het en menige skoolkind het in die sestiger- tot tagtigerjare daar aangedoen. Buiten al die mense wat hul verloof- en trouringe daar gekoop het, was hy ook ‘n ywerige fotograaf en by AC Kemna kon jy selfs ‘n kamera en film koop.
Hierdie was die tyd lank voor digitale horlosies en Anton het almal se stukkende horlosies weer aan die gang gekry.
Met die koms van digitale horlosies het die vraag na sy vaardigheid afgeneem, maar steeds het hy batterye vir die nuwe soort horlosies verkoop. Anton het later ‘n werkswinkel by sy huis aangebou vanwaar hy steeds horlosies herstel en gerestoureer het. Dit was ook in hierdie tyd dat hulle die winkel gesluit het.
Anton was ook ‘n oorlogsveteraan in die Nederlandse Leër op grond van die drie jaar aktiewe diens wat hy in Indonisië gedoen het, asook lewenslange lid van die MOTH klub vir oorlogsveterane.
Hy was gedurende sy leeftyd een van die aktiewe lede van die destydse Thabazimbi Vliegklub wat in die sestigerjare ‘n Piper Cub besit het. Die einste Anton Kemna het aan my, my eerste ondervinding gegee om in ‘n ligte vliegtuig te kon vlieg. Die skool-laaitie, wat as hy ‘n vliegtuig gehoor opstyg het, dadelik op sy fiets gespring het en vir ure hom verkyk het aan hoe hulle oefen om op te styg en te land, het sy aandag getrek en eendag het hy my gevra of ek wil saamvlieg. Na my terugkeer na Thabazimbi gedurende die vroeë tagtigs vanaf die Oos-Rand, waar ek as vliegtuigingenieur by Atlas Vliegtuiekorporasie gewerk het, het ek steeds die Kemnas in Thabazimbi aangetref.
Hy was ook ‘n aktiewe lid van die Thabazimbi Lionsklub. Destyds, gedurende die tagtigerjare, het die Thabazimbi Lionsklub weekliks flieks in die bioskoopsaal gewys en weereens het Anton my ‘n nuwe vaardigheid geleer. Die groot projektors was iets nuuts vir my maar met Anton, onder andere, aan my sy, het ek geleer om hulle baas te raak en die vertroue gehad om menige films te wys heeltemal op my eie in die projektorkamer. “Tel net die kolletjies, regs bo, op die skerm aan die einde van die rol en op die derde kolletjie sit jy die ander projektor aan sonder dat die kykers besef dat jy na ‘n ander projektor met ‘n nuwe rol film oorgeskakel het.”
Toe die Lionsklub in Thabazimbi besluit het om hul deure toe te maak, was Anton en Jenny steeds ingeskrewe lede van die Rustenburg Lionsklub en het gereeld elke Kersfees Lions Kersfeeskoeke verkoop as hul bydrae tot die fondsinsamelingsprojek van die Lionsklub. As vrywilligers werkers vir CANSA en tot onlangs toe het hulle tweedehandse boeke by Thaba Super Spar verkoop.
Anton was nooit sieklik nie en hierdie skielike afsterwe is ‘n skok vir die hele gemeenskap.
Die egpaar het nooit kinders gehad nie, maar die moeite wat hulle gedoen het om minderbevoorregtes te help, spreek boekdele. Hy sal beslis altyd as ‘n ikoon van die dorp onthou word.
Anton se gedenkdiens vind op Maandag 7 Julie om 11:00 in die NG kerksaal plaas en almal is welkom. Die diens sal gelei word deur Father Liam Brady.
Jenny dra dan ook haar bedanking oor aan almal wat haar so goed bystaan.