Waghond, of Beskermer?

Ons is geneig om te dink alle honde is waghonde. Dit is nie heeltemal waar nie. Daar is ‘n groot verskil tussen ‘n waghond en ‘n beskermer.
Boerboele, Rottweilers, Jack Russels en Foxterriërs is ‘n paar van die waghonde. Hulle keer mense om in te kom. Hulle pas eiendom op. Ja, hulle kan ook hulle base / huismense oppas, maar dis oor die algemeen moeilik om by hulle verby te kom na waar die huismense is!
Al is hierdie honde hoe goed in hulle werk, is hulle ook baie maklik om buite aksie te stel met gif, gifstowwe in blikke ensovoorts.
Teenoor hierdie waghonde, kry ons die beskermers. ‘n Paar hiervan is onder andere die Labrador, Ayerdale, Irish Terriër, Herdershond en skaaphond-rasse. Hulle sal ook ‘n erf verdedig, maar is baie beter daarmee om hulle mense te beskerm. Dikwels laat hulle mense inkom, maar nie weer uitgaan nie. As so ‘n hond sien dat iemand in die huis aangeval word, sal hulle beskermers-instink intree en hulle sal die aanvaller onmiddellik konfronteer.
Dit is dus logies dat ons, as ons werklik bang is vir ‘n aanval, een van elk sal hê. Die waghond buite, en die beskermer binne. Indien daar slegs ‘n beskermer op die werf is, oorweeg dit om hom/haar binne te laat slaap. Daar is onlangs in ‘n studie (waarin met skuldigbevinde inbrekers gesels is) bevind dat inbrekers baie banger is vir huise waar groot honde binne slaap. Buite-honde skrik hulle nie heeltemal af nie – as hulle eers in die huis is, is daardie hond in alle geval nie ‘n bedreiging nie!
Hoe weet ek my hond is ‘n beskermer of waghond? Indien die hond mense maklik by die erf laat inkom, is hy/sy ‘n beskermer. Toets die hond deur iemand te vra om dreigend voor te kom. Indien die hond sy ore spits en sy stert reguit maak, PASOP! Hy kan dalk aanval!
Ons het elkeen ons persoonlikheid en ons werk. So ook elkeen van ons honde-vriende. Maak seker wat dink jou hond, is sy werk. Gebruik hom daarvoor – en hy sal baie getrou wees.
Indien u nie ‘n honde-mens is nie: onthou dat sekere katsoorte – soos die Siamees – ook waardige beskermers is as hulle mense in die moeilikheid is!