Affairs vir domkoppe trek vol gehoor

Chris Vorster (heel regs), akteur van Affairs vir Domkoppe, saam met Vollie en Rita Volschenk (van die Super KunsteGrot) in Dewside Restaurant.
Chris Vorster (heel regs), akteur van Affairs vir Domkoppe, saam met Vollie en Rita Volschenk (van die Super KunsteGrot) in Dewside Restaurant.

THABAZIMBI – Die eenmanvertoning “Affairs vir Domkoppe” deur die akteur, Chris Vorster, onder die publiek dalk meer bekend as Rhyno van 7de Laan, het Saterdag groot aftrek gekry in die Super KunsteGrot op Thabazimbi.
Wat mense nie van bewus is nie is dat Chris ook ‘n skrywer is en die stuk self geskryf het. Die regie is waargeneem deur Pierre van Pletzen.
In hierdie eenmanvertoning is hy in die rol van regisseur wat aan die belangstellende akteurs, in hierdie geval die gehoor, verduidelik waaroor die hele drama gaan. Die akteurs sal die rol speel en die naam aanvaar van die karakter wat hy gaan vertolk.
Hierdie karakters se name sluit in Steve, Louis, Hannes, Marius en Trevor. Daar is ook twee vroulike karakters by name Liz en Floose.
Alhoewel die manlike karakters nie vanne het nie is daar portrette van die karakters op stoele geplaas wat nogal presies soos mense in die vermaaklikheidswêreld lyk. Jy kon met redelike min inspanning ‘n van daarby plaas.
Die regisseur vertel kortliks watse invloed die karakters op mekaar het en verwissel hulle heeltyd van stoele soos die storie ontvou.
Dat die gehoor dit geniet het was duidelik uit die skaterlag wat kort-kort uit die gehoor opgeklink het.
Na afloop van die vertoning het Dewside Restaurant in Tweedelaan Thabazimbi, spesiaal oopgemaak waar lekker warm sop en poeding bedien is. Chris het hom by die groep mense wat daar gekuier het aangesluit en tot laatnag is daar heerlik in die warm restaurant en die warm atmosfeer gekuier.
Dewside sal in die toekoms na die vertonings by die Super KunsteGrot vir die publiek oop wees vir ligte maaltye. Ondersteun gerus die moeite wat die organiseerders van die Super KunsteGrot insit om die gemeenskap opvoerings van hoë gehalte te bied.
Moet ook nie vergeet van die flieks wat ook op ‘n gereelde basis daar op die grootskerm gewys word nie. Die seisoen word dan ook ingewy met The Sound of Music wat op Vrydag 4 Julie en Saterdagoggend 5 Julie vertoon word.