Xtreme Wildveiling sorg vir nog rekordpryse

 “Classic”, ‘n Bastergemsgbokbul is teen die nuwe rekordprys van R4 200 000.00 verkoop.
“Classic”, ‘n Bastergemsgbokbul is teen die nuwe rekordprys van R4 200 000.00 verkoop.

Die Xtreme Wildveiling wat op Saterdag 7 Junie by die Bona Bona Wildkompleks naby Wolmaransstad plaasgevind het, gaan diegene wat so graag na die pen gryp en lang stories skryf oor die gevare van die wildbedryf, net meer slaaplose nagte gee.
Die eerste van die vyftien (2 van hierdie lotte is direk na mekaar vir ’n nuwe SA rekordprys verkoop, is verkoop vir ’n hoër prys – so daar wys net 13 op die tabel). Nuwe rekord pryse wat behaal is, was sommer met lot 1A naamlik ’n dragtige Koper-blesbokooi van Elandré telers wat vir R475 000 verkoop het. Lot 1B, nog twee dragtige Koper blesbok-ooie van dieselfde teler is direk hierna vir R500 000 stuk verkoop. Die vorige hoogste prys wat vir ’n soortgelyke dier op ’n veiling betaal was, is R320 000. Met die derde lot wat opgeveil was naamlik ’n Koper-blesbokram is die rekordboeke weereens herskryf deurdat hierdie pragtige ram van Elandré telers vir R900 000 verkoop is. Die vorige hoogste prys was R170 000.
Uitstaande kwaliteit Swartwitpense het hierna onder die hamer gekom. Tanzaniese Swartwitpenskoeie met bulkalwers, van Bona Bona Game Breeders, behaal R425 000 stuk. Zambiese Swartwitpense van Valley Venture Stud van Tina de Jager was hoog in aanvraag. Twee Zambiese verse behaal R1 900 000 stuk terwyl ’n koei R2 700 000 behaal. Die vorige rekord vir ’n Zambiese Swartwitpenskoei was R2 100 000. ’n Matetsi koei met ’n verskalf van Bona Bona is vir R800 000 verkoop, ook ’n nuwe rekord. Matetsi verse van Magic, ’n 48¾” Matetsi bul as pa, is vir R650 000 stuk verkoop, nog ’n rekord. Altesaam 19 Matetsi verse is verkoop vir ’n gemiddelde prys van R436 842 stuk.
Die hoogtepunt van die veiling was ongetwyfeld die Bastergemsbokbul genaamd Classic wat spog met die uitsonderlike horinglente van 33½”. Hierdie dier van Tina de Jager se Valley Venture Stud behaal R4 200 000. Die vorige hoogste prys vir ’n Bastergemsbokbul was R2 100 000.
Soos met al die wildveilings wat sover in 2014 plaasgevind het was die vraag na Koningswildebeeste goed. F1 splitkoeie dragtig van die bul Elvis is vir R650 000 verkoop. Njala-ooie het tot R70 000 stuk behaal. Verskeie kleurvariasie Springbokke was ook hoog op die inkopie lys. Koper Springbokooie het tot R70 000 stuk behaal. Gewone Springbokooie is vir tot
R4 800 stuk verkoop. Die laaste lot op die veiling was twee Kameelperde, ’n jong bul en ’n vers, wat ook vir ’n nuwe rekordbedrag van R 44 000 stuk verkoop is.
Volgens Niel Swart, afslaer van Vleissentraal Bosveld, wat die veiling aangebied het beklemtoon die goeie pryse wat kwaliteit diere behaal het, dat die vraag na sulke diere nog lank nie versadig is nie en dat beleggers die wildbedryf as ’n uitstekende belegging beskou.