Expedition Africa Port Edward – 500km

Wilma Pienaar

Na maande se oefen aan hardloop, stap, fietsry en roei breek die groot dag aan van die Expidition Africa te Port Edward en Thabazimbi se span, Gone Riding, bestaande uit Pieter van der Westhuizen, Dallas Fentum , Johan Pienaar en Wilma Pienaar is gereed om die uitdaging aan te vat.
Sondag oggend, 25 Mei om sewe uur, begin hulle met ‘n 11 km roei in die see, verseker nie wat ons geoefen het nie, ja op die rivier tussen die seekoeie en krokodille maar nie op daardie rowe golwe nie. Maar see in moet ons in so hier gaan ons. Die see het geen genade gehad nie, ons is 4 keer uitgegooi, nie baie sag nie maar met geweld. Met 2 verstuite vingers en 2 knoppe op die kop verder was ons in. Nou net die paar kilo’s roei dan is ons weer aan wal. Nie so maklik om uit te roei nie, weereens val ons af, spartel soos hoenders en kom nêrens, sit in ‘n stroom vas wat ons op een plek hou. Na ‘n paar minute wat soos ‘n uur voel is ons op die strand. Verligting… en dit was maar net die begin. Wat lê nog voor!!!
Ons roei in die rivier op na ons volgende punt en doen ‘n 12 km stap roete in die natuur reservaat wat ons 4 ure neem, waar ons kon draf het ons gedraf, nog vol energie. Die omgewing is pragtig en maak op vir die styl berge wat ons hande viervoet op en af moet klim. Waar ons die rivier oorsteek mis ons die CP en kom by die einde en besef ons sal moet terug stap, ons mors ongeveer ‘n uur. Vier Spanne steek ons verby. Roei terug na die oorgangspunt waar ons gaan begin met die 80km stap en 10km kloof stap.
Eerste punt waarheen ons stap was die absailing, gelukkig het ons dit in die aand bereik anders sou die krans wat 85m hoog was te hoog vir my gewees het, want dit is heeltemal verby my gemaksone. Die personeel daar was baie goed en ons het met ‘n paar probleempies die grond bereik. (Ons tou het nie die grond geraak nie en ons moes driekward van die berg af oorskyf na die ander tou, hulle het die tou korter gemaak net voor ons moes afgaan want hy het begin deurskuur waar hy oor die krans gehang het.)
Daarna stap ons toe 2 dae lank aan die 80km (met die paar draaitjies wat ons by gelas het, het ons toe op 100km geëindig) en ons vat 11 ure om die kloof uit te stap, ons kos het net-net gehou en ons voete is aan die brand en vol blase omrede ons skoene en kouse nat bly. Dallas het sy toon gebreek in die natuur reservaat, Johan se kuit spier is seer en Pieter se enkel is verstuit. Maar aanhou is al uitweg. Die eerste nag het ons nie geslaap nie, ons het deur die nag gestap, toe ons die volgende dag vier uur in ‘n klein dorpie kom, kon ons darm koeldrank “Appelsap met gas in” en Piltchers in tamatie sous ‘n brood wat reeds ‘n paar happe uit het (want muise kry ook honger) koop. Die aand is ons bederf want daar het ‘n huis oopgestaan waarin ons kon slaap. Twaalfuur daardie nag is ons daar weg net om 10km verder nie die rivier te kon oorsteek nie, want dit was hoogwater, al wat ons kon doen was wag vir nog twee ure voordat ons kan deur gaan. Ons stap toe langs die stand af vir seker 30km tot by ons volgende punt. Daar aangekom voete en bene verbind bietjie gerus en verder gestap. Langs die pad weer ‘n winkeltjie gekry waar ons, weer piltchers en brood kon koop. Die keer was ons bederf en kon ons Coke uit glase drink. Daarna het ons nog lank geloop tot by die kloof.
Ons het die kloof in die aand bereik en het seker 4 ure daarin af gestap tot ons nie meer die roete kon beplan in die donker nie. Ons het vir ons ‘n nessie gemaak op ‘n rotslys. Die spasie was baie beperk. Daar was baie goed wat gekriewel het, kan dit gelukkig nie by die naam noem nie want dan sou ek nooit kon slaap nie. Ons het wel die oggend ‘n paar vlooibyt merke gehad. Die volgende dag ‘n verdwaalde brood opgetel, was ons nie gelukkig nie want kos was maar aan die min kant. Ons het toe so vinnig soos ons kan af beweeg in die kloof en die volgende oorgangspunt bereik waar ons met die fietsry been begin het.
Ons is almal redelike goeie fietsryers en het gedink die 120km sou ons in ‘n japtrap voltooi. Gewoonlik sal dit jou so 6 ure neem, maar nie daar in Transkei nie, nee hier vat dit aansienlik langer want na ‘n paar kilo’s en al die berge (klim 2950m) met jou rugsak wat ongeveer 10 kilos weeg voel jy na ‘n ruk dat jou oë begin swaar raak, die saal te hard en die moontlikheid dat jy verdwaal word al hoe groter. Ons het tot twaalfuur daardie aand fietsgery en in ‘n geboutjie sonder dak skuiling gesoek vir vier ure. Die mense daar is baie vriendelik en hulpvaardig. Ons het altyd rigting gevra en hulle het ons mooi gehelp. Al was die verduideliking nie altyd in dieselfde rigting nie. By die volgende punt aangekom en gelukkig het ons ‘n keuse gehad of ons die 20 km wou roei of nie. Dit was ses uur en alreeds donker ons het die maklike uitweg gekies. Dit was net te koud vir roei. Ons het in die Lodge gebly en ‘n behoorlike nag se rus ingekry.
Die volgende oggend 6 uur het ons die volgende 150km fietsry been begin. Ons het die afstand in 11 ure voltooi en het 3200m geklim daardie dag. Die laaste 20km was in die donker op ‘n teerpad maar dit word genoem die “Road of Death”, hoekom? het ek binne ‘n paar kilo’s verstaan, daar was busse, trokke, voertuie, voetgangers, honde, beeste en bokke. Wat ‘n nagmerrie pad, ons het hierdie afstand in ‘n rekord tyd gery net om by die einde te kom. Gelukkig is ons almal lewendig en kon ons hierdie avontuur se eindstreep saam bereik.
Ses dae… en dit het soos ‘n oogknip verby gevlieg. Wat ‘n wonderlike ondervinding. Kan nie wag vir die volgende een nie!

Nou net afgeklim by die kloof nou moet ons weer anderkant op, dit was harde werk.
Nou net afgeklim by die kloof nou moet ons weer anderkant op, dit was harde werk.
Ontbyt in die chebien, coke en piltchers.
Ontbyt in die chebien, coke en piltchers.