Eie wetgewing pootjie ANC

Dat dit nou juis die een instrument is wat die ANC deur hul Cosatu bondgenootskap wou gebruik het om die ekonomie tydens die apartheidsjare op sy knieë te dwing, en die wettigheid van stakings in die wetboeke in te skryf om te verhoed dat die wit-bedryfde ekonomie nie verdere magte sal hê nie, dieselfde instrument is wat nou na 20 jaar van ANC bewind teen hom draai en Suid-Afrika in ‘n resessie gaan plaas wat hulle as regering dalk nie gaan oorleef nie.
Nieteenstaande sanksies het Suid-Afrika in die jare voor 1994 ekonomies oorleef en selfs die despot, Roberts Mugabe was ‘n ingeskrewe student aan Ford Hare Universiteit in Suid-Afrika. Die ekonomie het gebloei want vir diegene wat wou werk, geskoold en ongeskoold, was daar werk.
Die NP het met sy beleid van apartheid nie alleen ander rassegroepe benadeel nie, maar het met die inmenging van die kerk in regeringsake ook teen die wit bevolking gedraai met die ontsegging van menseregte ten opsigte van seksualiteit en die opperbeskikking van die patriargale rol van die man in die familie. Voeg hierby diensplig vir alle mans ouer as 16 jaar en die breinspoeling van wit Suid-Afrikaanse mans, skaars seuns, wat oorlog toe gestuur is om die Rooi gevaar te stuit.
Almal weet van die blouvitrioel wat in die tee gegooi is om die mans se seksdrange in beheer te hou. As hulle dit kon doen, wat het hulle verhoed om dalk ander chemiese middels, waarvoor ‘n dokter nou pa voor moet staan, in ons kos te gooi om ons die guts te gee om in ‘n boelie of moordenaar te ontaard, al was jy jou hele lewe nog nooit eens in ‘n vuisgeveg op skool betrokke nie. Jy was as staatseiendom gereken en volgens ander wette beoordeel as in die siviele lewe. As sewentienjarige was ek in die militêremasjien gegooi. Een van jou pligte teenoor Suid-Afrika was om in diens van jou land te sterf, met die enigste vergoeding, ‘n militêre begrafnis.
Ongelukkig het die ANC nou uitgevind dat jy kan nie net mense deur wetgewing toelaat om te staak soos, en wanneer hulle wil nie, sonder finansiële en dalk gewelddadige implikasies nie. Gaan ondersoek eers die leier(s) van die spesifieke vakbond. Gaan hy dieselfde ontberinge deur as die stakers, wie se maandelikse inkomste ‘n paar miljoen rand vir hom voor die staking uitgeroep is, in die sak gebring het.
Moet hy ook in ‘n lang ry gaan staan en hande bak hou vir kospakkies wat gewoonlik deur wit mense voorsien word, wat nie eens aan die bedryf verbonde is nie. Die antwoord is eenvoudig nee, want hulle staak mos nie, hulle werk juis nou op hul hardste. Ongelukkig doen hulle eintlik niks anders as protesteer nie, want hulle bereik niks vir hul lede se voorspoed nie.
Alhoewel die ANC die staking blameer op wit mense (glo in die buiteland, wat politieke motiewe het) en die EFF, vir wie hulle geen nuwe werksgeleenthede kon bied sedert bewindsoorname nie, inteendeel werkloosheid het toegeneem, moet hulle maar net besef dat hulle self hierdie mag aan vakbondleiers gegee het om in weelde te lewe terwyl hul lede krepeer van die honger, dit nogal in die middel van die winter.
Die jongste aanduidings is dat myne van hul skagte gaan sluit en daarmee saam gaan duisende werkgeleenthede. Hierdie skagte sal dalk glad nie weer heropen nie en sal alle hoop vir werkers wat hierdeur geraak word vir enige inkomste totaal by die venster uitvlieg.
Die feit dat Beeld Maandag laas iets oor die staking berig het, dui op die ondergang van die Suid-Afrikaanse ekonomie.
Hou op om die stakers te voer. Dit is die enigste manier dat hulle hul reg om te mag werk kan gebruik en geld te verdien om vir hul afhanklikes te sorg. Solank die stakers verniet kos kry, al verg dit ‘n lang tou, sal hulle bly kruip voor hul vakbondleiers.