Veiligheidskompleks geteiken

THABAZIMBI – Gewapende inbrake is beslis nie besig om te verdwyn nie en Sondagoggend omstreeks 04:30 die oggend moes Annerie Botha, wat die nag by vriende in Thabazimbi oorgebly het, die werklikheid hiervan beleef en dat veiligheidskomplekse jou beslis nie hiervan vrywaar nie.
Die voorval het in die Oudekraal veiligheidskompleks oorkant die begraafplaas gebeur toe die aanvallers die agterdeur van die huis met ‘n skroewedraaier oopgebreek het nadat hulle ongemerk oor die hoë muur en die geëlektrifiseerde heining geklim het.
Die voorval het by die huis van Abrie en Madelein Pelser gebeur. Annerie en die gesin se seun, Almar, het in die sitkamer geslaap. Hulle het wakker geword toe hulle die mans in die kombuis gewaar aangesien die kombuislig aan was. Die inbrekers het met ‘n flits in hul oë geskyn en die volgende oomblik het die een Almar met ‘n mes teen sy kop aangehou terwyl hulle vir geld vra en Annerie met die skroewedraaier gedreig terwyl die flits steeds in haar oë geskyn is.
Alhoewel hulle Annerie se handsak met iPad, hul selfone en haar beurie met geld en al haar kaarte gevat het was hulle nie tevrede nie en is by Abrie se kamer in. Dit was eers toe hy die gevroetel in die juweelkissie hoor, dat hy wakker geword het en op hulle geskreeu het.
Die twee inbrekers het weer oor die muur en heining ontsnap en in die donker met hul buit, wat kontant, vyf selfone, horlosies, die iPad en Annerie se handsak ingesluit het, verdwyn het.
Gelukkig was daar ‘n selfoon weggesteek en die is gebruik om die polisie te kontak.
Op een stadium het die inbrekers selfs Annerie se ma gebel en gespog met hulle buit.
Die saak is by die Polisie aangemeld en enige persoon wat inligting het oor die voorval word gevra om die Thabazimbi Polisie te bel by 014 777 3504. Die saaknommer is 1/6/14 TBZ CAS 8/6/2014.
Volgens onbevestigde berigte is dieselfde nag ook gepoog om by Byekorf in te breek.