Ek was verkeerd

Miskien was my oordeel oor Lindiwe Zulu, minister van die nuwe misterie van kleinsake-ontwikkeling, te gou. Sy het sommer met die intrapslag swaarde gekruis met Cosatu oor die vrystelling vir kleinsakebesighede van arbeidswetgewing.
Een van die redes wat sy aanvoer is dat kleinsakeondernemings nie dieselfde hoë salarisse kan bekostig wat deur die groot maatskappye vir hul werkers betaal word nie. Sy gee toe dat minimumlone ‘n rol moet speel, maar dat dit realisties moet wees waar kleinsakeondernemings betrokke is.
Cosatu is steeds onder die wanindruk dat kleinsake hul werknemers sonder rede afdank. Duidelik doen hulle nie hul huiswerk nie. Wit en swart werkers is baie goed ingelig oor die rol van afdanking en hulle regte ten opsigte van CCMA bemiddeling. ‘n Kleinsake-eienaar kan nie waag om sy voet verkeerd neer te sit nie, of sy werkers is daar, gewoonlik met dreigemente met CCMA.
Wie van ons kleinsakeondernemings het nie al in die slaggat van personeelvermindering gegaan sonder die meegaande skeidingspakette vir onproduktiewe personeel waarvan jy in elk geval ontslae wou raak, maar deur wetgewing verhoed is om dit te doen. As jy nie ten minste drie dissiplinêre teen hulle kan kry en wat deur hulle geteken is nie, gaan sien maar eerder ‘n arbeidsmakelaar. Veral as hulle jou in ‘n emosionele situasie laat beland dat jy eerder hul poste moet laat verval sodat hulle werkloosheidsversekering kan eis. Dit nieteenstaande die feit dat jy hulle ander poste binne die firma aangebied het ter wille van finansiële oorlewing nie. Wees daarvan bewus dat ‘n paar van hulle in die plaaslike arbeidsmark rondswerf.
As jy nie deur die korrekte prosedure van personeelvermindering gaan nie, kan daardie werknemer, volgens huidige wetgewing, jou besigheid vir jou toemaak.
Vergeet ook maar van daardie kontrak wat jy met jou werkers aangaan, veral in ‘n gespesialiseerde lyn waar jy self die opleiding verskaf het, dat hulle vir ‘n sekere tydperk nie by ‘n soortgelyke firma mag werk nie. Dit is nie uitvoerbaar nie, tensy jy prokureurs wil ryk maak. Die enigste bevrediging wat jy daarvan kan kry is om jou agterent met die dokument, met hul handtekening daarop, mee af te vee.
Zulu se reaksie op Cosatu se ontoegeeflikheid teenoor arbeidwetgewing was: “Wanneer kleinsake-eienaars klein winste maak, kan hulle nie gedwing word om lone te betaal, of om werkers in diens te hou, wat hulle laat ondergaan nie.”
Wat baie vreemd is dat soveel nuwe kleinsakebesighede die suksesverhaal van bestaande en gevestigde kleinsake ondernemings wil oorneem, sonder enige inagneming van die rol wat daardie onderneming in die gemeenskap gespeel het vir sy hele leeftyd.
Sover dit kleinsake aan betref, bewys statistiek dat slegs 37% die eerste vier jaar en net 10% die eerste tien jaar oorleef.
Steeds is daar die klein jakkalsies wat ten koste van hul eie inkomste deur advertensieverkope, hulself bemark deur ongewaarborgde lesertal, verspreiding en oplaag aan besighede uit te braak.
Kwêvoël vier oor twee maande sy 31ste bestaansjaar in Thabazimbi. ‘n Prestasie wat min plaaslike kleinsake ondernemings hulself kan toereken, nog minder enige van hierdie klein jakkalsies. In hierdie tyd het Iscor Kumba geword en later een geword met die RPM-myne wat deur Anglo oorgeneem is. Istores het toegemaak en Thaba Park is gebou. Kwêvoël het selfs die oordrag van die regering van NP na ANC oorleef, alhoewel hy destyds as ‘n wankelmoedige platform vir die KP in Thabazimbi en as ‘n NP propogandakoerant in die destydse Ellisras uitgemaak is.
Gedurende hierdie tyd het Kwêvoël reeds dertig (die 31ste een kom nog) Wildsfeeste oorleef, die koms van Shoprite, Pick n Pay en Superspar as besighede verkondig, self die eerste skagskiet van Northam Plats, en Setaria se dorpstigting beleef en daaroor nuus gedra. Iets wat hierdie klein jakkalsies niks van weet nie, Kwêvoël het hulle ingelig. Daarby is Kwêvoël deur sowat vier of vyf plaaslike sakekamers waarvan die lede dink dat slegs hul lidmaatskap daaraan die voete oor hul winkeldrempels, sonder advertensie in die plaaslike koerant, gaan sit. Laasgenoemde persepsie blyk steeds van toepassing te wees.
Aan watter kant van die suksesverhaal van oorlewing wil jy staan? By jakkalsies (vier tot tien jaar) wat geen waarborg kan gee nie, of Kwêvoël wat aan die ander kant van 37% van onsuksesvolle kleinsake staan, en steeds sal voortbestaan vir die oorblywende 53% van kleinsake wat ‘n diens aan die gemeenskap lewer en nie net daar is om die besighede ten koste van hulle eie sak te melk nie.