R4,2m vir wit saalrug blesbok ram

BELA BELA – Nagenoeg duisend mense van alle spektrums in die wildbedryf het Saterdag 24 Mei die WRSA Wildveiling op die Thaba Manzi Wildlife Services terrein op Bela Bela bygewoon. Skaarswild en gewone vlaktewild is in die bomas asook per katalogus aangebied.
Die voordeel vir kopers wat die veiling bywoon het is dat diere van verskeie verkopers van regoor die land aangebied word. ’n Verskeidenheid genetiese materiaal maak die veiling dus aantreklik vir die kopers.
Nege nuwe rekordpryse is behaal. Die hoogtepunt van die veiling was ongetwyfeld die R4 200 000 wat die wit saalrug blesbok ram van Dr Donnie van Zyl van Amersfoort behaal het. Die koper van die baie skaars dier was mnr Piet du Toit, bekende op al die wildveilings.
Blesbok kleurvariasies het vir nog rekordpryse gesorg naamlik Wit saalrug blesbok split Ram vir R300 000, Wit saalrug blesbok split ooie vir R475 000, geelblesbok ram vir R375 000 en witblesbok ooie dragtig van ’n geelblesbok ram vir R60 000.
’n Witrenostervers dragtig van ’n 33” bul van mnr. Wynand Botha is vir ’n nuwe rekord bedrag van R600 000 verkoop.
Gewone vlaktewild se pryse was besonders goed. Rooiribbokke van Dr Pieter De Kock van Thabazimbi het ’n nuwe rekord bedrag van R10 000 stuk behaal. ’n Bosbok ram Forever Resorts Warmbaths het vir R16 000 verkoop.
’n Koedoe bul met uitsonderlike wye horings en wat 61” meet het R360 000 behaal. Koedoe koeie dragtig van hierdie pragtige bul is vir R35 000 stuk verkoop.
Soos met vorige wildveilings die seisoen was die vraag na saalrug rooibokke baie goed. ’n Jong 6 maande oue ram van mnr. Johan van der Merwe is verkoop vir R1 800 000. Saalrug rooibok split ooie van mnr. Benau Viljoen behaal R375 000 stuk. Gewone rooibok ooie dragtig van ’n saalrug rooibok ram het vir R30 000 stuk verkoop, nog ’n rekord.
Vleissentraal Bosveld het die veiling aangebied en Niel Swart was die afslaer.