Boere en Cele – Wat nou?

Mens kan maar net hoop dat tannie Tina Joemat-Pettersson, buiten Vogue, ook iets uit die vervaardiging van Bio-energie tydens haar termyn as minister van landbou geleer het, met haar nuwe aanstelling in energiesake. Ongelukkig is sy vervang met iemand wat werkers kan oplei in die fynere kunsies van die stakingsbedryf en leiding kan gee oor hoe om met hul werkgewers se gal te werk, soos die geval tans is met die nimmereindigende mynstaking, met die aanstelling van Senzeni Zokwana, gewese president van die mynwerkersvakbond NUM. Daarby is hy ‘n groot radikaal sover dit grondhervorming aanbetref.
Dr Pieter Mulder is ook as adjunk minister vir landbou uitgeskop en vervang met die omstrede gewese nasionale polisiekommissaris, Bheke Cele. Dalk kan hy die boere ‘n paar trieks leer oor hoe om jou grond uit te verhuur sonder dat die huurder agterkom dat dit eintlik net die agterplaas is en nie die hele plaas nie. Dit is as jy steeds ‘n agterplaas gaan oorhê na Zokwana al die landbougrond onder die opkomende grondeisers verdeel het. Boere wat vir kos vir die hele land kan sorg is hulle gewis nie.
Daar gaan ook nie meer gala’s wees nie met speedo van Schalkwyk wat sy pos totaal kwyt is. Derek Hanekom sal dalk nou wys hoe brandpoele in swembaddens vir toeriste omskep kan word.
Een groot probleem is iets waaroor ek reeds vantevore geskryf het. Daar gaan mos ‘n nuwe ministerie ingestel word vir kleinsake. Wat ek graag wil weet is of die agbare Lindiwe Zulu, Zuma se voormalige adviseur vir buitelandse sake, genoeg ondervinding het om te sorg dat kleinsake hul regmatige erkenning gaan kry vir die rol wat hulle speel, nie net in werkskepping nie, maar ook vir hul bydraes tot die staatskatkis. Of moet sy gaan vasstel hoekom daar so baie kleinsakeondernemings onder wit eienaarskap is wat steeds oorleef?
Miskien het Zuma ook agter gekom dat sy minister van miniralebronne, Susan Shabangu, wat ook sterk gekritiseer is oor haar swak betrekkinge met die rolspelers in die mynboubedryf, eerder moet gaan leer koeksisters bak as minister van vrouesake. Hierdie aanstelling is ‘n nuwe pos nadat dit afgestig is van die departement van vroue, kinders en mense met gestremdhede. Laasgenoemde twee sal nou onder die departement van maatskaplike ontwikkeling sorteer.
Die departement van landelike gebiede en grondhervorming kry sommer twee adjunkte by, seker omdat die regering nog meer finansieel houbare boerderye wil oogmerk vir grondhervorming in plaas daarvan om te kyk hoeveel staatsgrond onbenut lê en hiervoor aangewend kan word.
Met die soustrein, nou met nog meer swaarbelaaide trokke aangehaak, sal daar beslis kole gegooi moet word om hierdie lokomotief, wat so ‘n swaar en oorlaaide soustrein moet trek, te laat voortstoom. Met steenkoolmyne wat nie eens genoeg steenkool vir die kragstasies kan lewer nie, waar gaan Zuma sy ekstra steenkool vandaan kry?
Skuus vir die onnodige vraag. Hy gee maar net vir een van sy familie die reg om in ‘n sensitiewe gebied te gaan steenkool grawe. Ons lewe deesdae mos net vir die dag en hoef nie daaraan te dink om aan ons kinders iets oor te laat nie. Dit sal maar hulle eie saak wees hoe hulle gaan oorleef in ‘n omgedolwe, dor en droë Suid-Afrika.