Helpende Hand doen beroep op publiek om platinumgordel by te staan

Solidariteit Helpende Hand doen ? beroep op die publiek om nie-stakers by te staan te midde van die voortslepende staking in die platinumsektor. Talle gesinne in die platinumgordel ervaar ernstige finansiële nood aangesien beide werknemers en kontrakteurs sedert die begin van die staking min of geen inkomste verdien nie.

Skenkings van regoor die land is al ontvang vir die inwoners van die platinumgordel wat gebuk gaan onder die finansiële impak van die staking.

Helpende Hand het al meer as ? halfmiljoen rand se kos in hierdie area versprei en gaan steeds voort om hulp aan die inwoners te bied. Helpende Hand het vandeesweek ingespring om voedingskemas by sewe skole in die platinumgordel te ondersteun en aan te vul. Helpende Hand fasiliteer ook emosionele en skuldberading vir mense in die area wat dit benodig.

“Alhoewel Helpende Hand alreeds baie hulp in hierdie area verleen het, besef ons dat dit noodsaaklik is dat ons gemeenskappe ons hande versterk en help waar hulle kan,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand. “Die nood is werklik groot en ons besef dat ons dit nie alleen sal kan doen nie. Elke skenking en finansiële bydrae maak ? reuseverskil en ons is opreg dankbaar vir die skenkings wat ons alreeds ontvang het.”

Helpende Hand nooi gemeenskappe uit om skenkings by enige van die Solidariteit Dienskantore regoor die land af te laai. Die dienskantore is geleë in Pretoria, Rustenburg, Witbank, Kathu, Bloemfontein, Boksburg, Carletonville, Klerksdorp, Pietersburg, Secunda en die Vaaldriehoek.

Vir ? volledige lys van voedselskenkings wat benodig word, asook die adresse van die dienskantore, besoek geruswww.staaknie.co.za. Die publiek kan ook ‘STAAKNIE’ SMS na 38969 en sodoende R10 tot die rampfonds bydra. Kontantskenkings kan in die volgende bankrekening inbetaal word:

Absa Bank (Trustrekening)
Solidariteit Helpende Hand
Rek.: 9082262243