Rekordpryse vir top diere

Jamba, ’n 30 maande oue buffelbul wat reeds ’n ongelooflike 41½” meet, het die Kaap behoorlik aan die gons nadat dit vir ’n rekordbedrag van R26 miljoen verkoop is op die eerste wildveiling van Unyati Game Reserve en Wintershoek Wild, wat deur Vleissentraal Bosveld op 10 Mei aangebied is. Die naam van die koper is nie bekend gemaak nie.
Altesame 142+17 Stuks wild is op die gewone manier opgeveil, terwyl nog 535 stuk wild per katalogus aangebied en op ’n stil-veiling verkoop is. Die omset van die veiling was meer as R150 miljoen.
Verskeie ander rekordpryse is vir topdiere betaal. ’n Dragtige bastergemsbok vers het vir die eerste keer die R1 miljoen kerf behaal. Twee bastergemsbokkoeie met kalwers is vir R900 000 stuk verkoop en twee oop verse het R770 000 stuk behaal.
Al hierdie diere is deur Wintershoek Wild aangebied.
Van die 42 swartwitpense wat aangebied is, was die R5 miljoen wat behaal is vir ’n 4 jaar oue bul met ’n horinglengte van 43½” en ’n besonderse mooi masker die hoogste prys van die dag vir dié spesie. Die koper van die bul was Tina de Jager van Valley Venture van Vryburg.
Soos met al die vorige veilings vir 2014 is rekordpryse vir koningswildebeeste behaal. ’n Jong bul het R2 600 000 behaal, terwyl die hoogste prys vir ’n vers R3 500 000 was. Wintershoek was die verkoper en Tambotie Floodlands die koper.
’n Goue wildebees jongbul van 18 maande is verkoop vir R330 000, en ’n vers vir R300 000.

Jamba, die jong buffel bulletjie wat verkoop is teen die nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys van R 26mil.
Jamba, die jong buffel bulletjie wat verkoop is teen die nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys van R 26mil.

’n Rekordprys van R30 000 stuk is deur Bona Bona Game Breeders vir vier gemsbokke betaal. ’n Goue gemsbokbul is vir R300 000 verkoop, goue gemsbokkoei vir R260 000 en ’n koei met ’n kalf vir R310 000.
Die hoofdis van die dag was ongetwyfeld die buffels wat verkoop is. Jamba het R26 miljoen behaal. ’n Dragtige Koei van 5½ jaar, met 36” horings en ’n 10 maande oue bulkalf, het R6 miljoen behaal.
Altesame 25 buffelverse wat aangebied is op die veiling het ’n gemiddelde prys van R741 000 stuks behaal. Die R2 700 000 wat vir ’n 15 maande oue vers van Unyati betaal is, was nog ’n rekordprys.
Vleissentraal Bosveld het die veiling aangebied en Brandon Leer was die afslaer.

Die dragtige bastergemsbok vers is verkoop teen ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys van R 1milj.
Die dragtige bastergemsbok vers is verkoop teen ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys van R 1milj.