Helpende Hand gryp in met groeiende behoefte by skole-voedingskemas in platinumgordel

Solidariteit Helpende Hand het ingespring om voedingskemas by skole in die platinumgordel te ondersteun, nadat hierdie skole se voedingskemas ‘n gemiddelde groei van 90% getoon het sedert die staking by die platinummyne begin het.

Helpende Hand het in April die platinumgordel tot ‘n gedeeltelike rampgebied verklaar vanweë die staking wat drie maande gelede by platinummyne begin het. Die rampgebied sluit onder meer die dorpe Rustenburg, Brits en Mooinooi in.

“Skole rapporteer dat hul voedingrye al hoe langer word en dat kinders selfs vra of hulle kos kan huistoe neem,” sê dr. Danie Brink, Uitvoerende Direkteur van Helpende Hand. “Van die skole se voedingskemas het tot soveel as 200% vermeerder. Dit is net bewyse van die enorme finansiële impak wat hierdie staking op die inwoners en uiteindelik ook die kinders het.”

Helpende Hand sal Woensdag aan vier laerskole en drie hoërskole Spar-kaarte oorhandig waarmee hulle hul voedingskemas vir die volgende drie maande kan aanvul. Die geleentheid sal by Laerskool Rustenburg plaasvind waar al die leerders ook kospakkies sal ontvang.