Frikkies draf weer uit in streeptruie

THABAZIMBI – Saterdag 10 Mei het die Eerstespan van Frikkie Meyer weer vir die eerste keer na bykans 17 jaar in die kenmerkende blou en wit streeptruie op die veld gedraf in die wedstryd teen Warmbad.
Dit het gekom na aanleiding van versoeke vanuit die ouergemeenskap dat daar weer gekyk word na ‘n trui wat die identiteit van Frikkie Meyer sal vestig.
Vanuit ‘n historiese oogpunt het die Frikkies aanvanklik ‘n wit trui met ‘n breë blou band gehad wat onder ‘n wit trui wat blou strepe gehad het, om die meeste skole destyds die wit basis gehad het met ‘n enkele breë streep in, ‘n bepaalde kleur.
Spelery in die Suidsirkel van Wes-Transvaal en ook die destydse Verre-Noord het die behoefte laat ontstaan aan ‘n trui wat ‘anders en uniek’ was.
Die insette van mnr Ben van Rensburg, afrigter van die Eerstes, het bestuur beweeg om die verandering te maak. In die volgende jare het klein veranderinkies soos ‘n rooi kraag, rooi omslag op die mou en later rooi kouse deel van die wedstryddrag geword.
In 1997 word die trui herontwerp met die oorweging grotendeels ‘esteties’ onder leiding van mnr Deon Azar (afrigter) en die skoolhoof, mnr Ben van der Linde. Die trui was in gebruik vir ongeveer agt jaar. ‘n Nuwe ontwerp sien die lig nadat ‘n borgskap met die Mr Price groep via die insette van mnr’e Glen van Rooyen en Deon Azar wat met die verteenwoordiger van die Mr Price, Kabous van der Westhuizen, realiseer. Mr Price is dan ook sedert 2005 die hoofborg van Frikkie Meyer se eerstespan.
Die ontwerp, plasing van logo’s en dies meer het verander soos die verskaffers aan Mr Price verander het, maar die blou en wit as hoofkleure, met iewers bietjie rooi, is behou.
In 2013 nader as ouers die BL-verteenwoordigers met die versoek dat Frikkie Meyer weer in ‘n trui moet speel wat die identiteit van die skool vestig. Gegewe die verlede en die truie wat in gebruik was, is gevoel dat die sogenaamde ‘streeptrui’ die mees verteenwoordigende was, omdat dit vir die langste tydperk as trui van die Eerstes gedien het. En so is die ou trui weer gebore…
Tydens ‘n spesiale geleentheid op wat Vrydagaand 9 Mei gehou was, is die trui aan die hoof, mnr Colin Campbell, en afrigter mnr Pierre van Jaarsveld, deur mnr Gert du Plessis (BL-verteenwoordiger) oorhandig as die nuwe amptelike trui van Frikkie Meyer se Eerstepan.

Mnr Colin Campbell wat trots staan met een van die nuwe eerste rugbyspan truie aan, saam met Gerhard van Rensburg, waar dit aan die publiek bekend gestel is.
Mnr Colin Campbell wat trots staan met een van die nuwe eerste rugbyspan truie aan, saam met Gerhard van Rensburg, waar dit aan die publiek bekend gestel is.

Tydens die geleentheid is die trui aan die ouers van die spelers oorhandig wat dit weer aan hul seuns oorhandig het – die geboorte van nog ‘n tradisie. Om kleur aan die geleentheid te gee, het die oud Frikkie en Springbokspeler, Cliff Milton, die geleentheid bygewoon en het hy ook gesprekke met die spelers gevoer.
Op Saterdag 10 Mei, net voor die 0/16 wedstryd is die oorhandiging weer seremonieel op die A-veld ten aanskoue van die publiek gedoen deur mnr Gerhard van Rensburg wat die trui aan die hoof en ook mnr Wynand Potgieter (oudkaptein van die Eerstes en agsteman) oorhandig het.
Voor die aanvang van die wedstryd tree die spelers voor hulle skole aan en die skoolliedere word gesing. Onder groot toejuiging draf die Frikkies (die Streeptruie) op die veld en slaag daarin om ‘n moeilike wedstryd teen Warmbad met 25-7 te klop.
Ons glo dat hierdie trui weer die ‘n tradisie sal inlei en dat diegene wat na ons die leisels oorneem, die tradisie gestand sal doen, of soos Oom Ben terloops opgemerk het:”Ek is bly die Frikkies het weer bekeer geraak…”