DA groei goed in Thabazimbi

THABAZIMBI – Tydens die nasionale verkiesing van 7 Mei 2014 het talle inwoners hulle kruisies getrek by die Demokratiese Alliansie op die nasionale- en provinsiale stembrief.
Die DA het tydens die verkiesing ‘n totaal van 4999 (18.24%) op die nasionale stembrief en 4653 (19.23%) op die provinsiale stembrief ontvang. Dit is 41.7% meer stemme as in 2009 en 110.6% meer as in 2004, waartydens die DA slegs 2373 stemme op die nasionale stembrief ontvang het.
Verder het die DA geen oorheersende stem by enige stemdistrik gehad in 2004 nie, maar kon daarin slaag om die meerderheid stemme van vier stemdistrikte in 2009 te behaal.
Die DA is dankbaar vir elke kieser wat tydens hierdie verkiesing gestem het en kon daarin slaag om die meerderheid stem in 10 stemdistrikte te ontvang. Dit is egter kommerwekkend dat slegs 28 013 mense van die 42 184 geregistreerde kiesers deelgeneem het aan hierdie verkiesing, dit is 66,4% .
Wat egter meer ontstellend is, is dat 67 165 inwoners van die Thabazimbi Munisipale gebied stemgeregtig is volgens 2011 se sensus. Dit beteken dat slegs 41.7% van alle stemgeregtigdes deelgeneem het aan die verkiesing. Tydens 2016 gaan die plaaslike verkiesing plaasvind, dus word alle inwoners genooi om reeds nou te gaan geregistreer om aan die verkiesing deel te neem.
Talle inwoners wat in Thabazimbi woonagtig is, is egter steeds geregistreer by ander munisipaliteite en word ook versoek om in Thabazimbi te herregistreer. Die OVK se kantoor is geleë op die hoek van Van der Bijl en Judith strate.