Pilanesberg Game Breeders Veiling: Veilingsrekords kantel een na die ander

Die Pilanesberg Game Breeders se eerste veiling was ‘n dag van buitengewone prestasies waar skaars en eksotiese diere deur ywerige kopers ‘n omset van R145 837 000 aangeteken het. Vier en twintig veilingrekords het gekantel en een ge-ewenaar met pryse wat gedurig opwaarts geskiet het. Die veiling wat na die sukses van die dag ongetwyfeld as een van die grootste op die Wildbedryf kalender vir 2014 bekend sal staan het alle verwagtinge oorskry. Die veiling is op 3 Mei 2014 by die Molokwane Lodge naby Rustenburg gehou.
Alreeds in lot 3 is die eerste nuwe rekordprys behaal deurdat die 3 koper blesbokke vir R280 000 stuk verkoop is. Die vorige hoogste prys vir koper blesbokke was R260 000.
Kleurvariasies was hoog in aanvraag. Twee rooibok splitooie met swart gene met 2 lammers behaal R440 000 stuk. Die vorige hoogste prys vir soortgelyke ooie was R250 000. ’n Swart rooibokram behaal R520 000 en swart rooibokooie behaal tot R510 000, splitooie behaal R140 000 stuk, alles nuwe rekords.
Dis moeilik om te besluit wat die hoogtepunt van die dag was. Die Swartrug Rooibokram wat vir ’n ongelooflike R5 700 000 verkoop is of die jong Swartrug Rooibokram wat R4 000 000 behaal het. Dan was daar nog die Swartrug Rooibok splitooie vir R800 000 stuk.
Swartwitpense was volgende aan die beurt. Zulu, ’n 45.1” Matetsi bul behaal R2 400 000. ’n 12 maande oue Zambiese bul, seun van die bul Tsunami verkoop vir R1 400 000. ’n Zambiese kruisvers, ’n dogter van Charlie dragtig van Tsunami behaal R2 150 000. ’n Zambiese vers dragtig van Tsunami verkoop vir R2 800 000. Die hoogste prys nog vir ’n Wes Zambiese vers nl. R4 100 000 word betaal vir ’n vers dragtig van Tsunami.
Twee buffel veilingrekords is ook verbeter. ‘n 35” koei dragtig van Matetsi behaal R7 800 000. Die jong Oos-Afrika bul Nero, seun van Matetsi verkoop vir R5 200 000.
Twee bastergemsbokverse dragtig van die 31.5” bul Tosca behaal R825 000 stuk.
Die hoogtepunt van die veiling was egter die Koningswildebeeste. Matopi, ’n 24” Koningswildebeesbul behaal R 5 100 000. Blouwildebeeskoei dragtig van Matopi ewenaar die vorige veilingsrekord van R140 000. ’n Koningswildebees splitkoei met ’n koningswildebees bulkalf, wat weer gaan kalf en dan weer dragtig behaal R12 500 000.
Onder die vaandel van Vleissentraal Bosveld wat die veiling aangebied die oordeelkundige kopers wat dit bygewoon het, nie teleurgestel nie. Die verkopers het hulle beloftes nagekom met ‘n wye reeks uitmuntende diere wat van top genetika geteel was. Brandon Leer was die afslaer.

Die Koningswildebees van Tebalje Safaris wat die rekordprys van R5,1m verkoop is.
Die Koningswildebees van Tebalje Safaris wat die rekordprys van R5,1m verkoop is.
Op die foto is die koper en verkoper van die Swartrug rooibokbul, wat vir die rekord bedrag van R5.7m opgeveil is saam met afslaer. Hulle is vlnr: Daniel van Tonder (seun), Ruan van Tonder (seun), Nico van Tonder (koper), Piet du Toit (verkoper), Werner van Tonder (seun) en Brandon Leer (afslaer). Fotograaf: Michael Cordes.
Op die foto is die koper en verkoper van die Swartrug rooibokbul, wat vir die rekord bedrag van R5.7m opgeveil is saam met afslaer. Hulle is vlnr: Daniel van Tonder (seun), Ruan van Tonder (seun), Nico van Tonder (koper), Piet du Toit (verkoper), Werner van Tonder (seun) en Brandon Leer (afslaer). Fotograaf: Michael Cordes.