“Ou-toppie” skop stof in ander se oë

THABAZIMBI – Een van Thabazimbi se ouer atlete, Peet van Breda, reeds in sy vyftigs, het tydens verskeie kampioenskappe gewys dat jy nieteenstaande jou ouderdom steeds kan presteer.
Tydens die Gauteng-Noord Atletiekkampioenskappe het Peet ‘n silwermedalje in die 100m naellope in ‘n tyd van 13.05 losgehardloop. By die Suid Afrikaanse kampioenskappe het hy in Gauteng Noord se kleure deelgeneem en sy tyd van 12.9 in die honderd meter naellope het hom weereens ‘n silver medalje besorg. Sy aflos span het goud in hierdie item verwerf.
Peet het ook aan die SAMA kampioenskappe deelgeneem. Hierdie kampioenskappe is van 25 tot 26 April in Rustenburg by die Royal Bafokeng Stadion aangebied. Deelnemers van so jonk as 30 tot so oud as 92 het in alle veld en baan items sowel as die marathon deelgeneem. Dit was ‘n unieke byeenkoms met presteerders, wêreld kampioene en oud legendes wat deelgeneem het.
Ouderdomme is verdeel in vyf jaar groeperings. Peet self het in die vyftig tot vier en vyftig ouderdomsgroep deelgeneem. Peet sê dat sy deelname was vir hom maar net weer vir ‘n besondere motivering om sy gesondheid te waardeer en goed om te sien na sy fisiese fiksheid.
Hy spreek ook die hoop uit om sy mede-dorpsgenote te inspireer om betrokke te raak by konstruktiewe oefening om hul liggame in stand te hou. Die voordele is legio: minder siek te wees en gesond te dink, praat en te leef. Immers moet die ou lyf kas jou nog baie jare dra.
Sy gesin ondersteun hom ten volle en Peet sê dankie vir sy vrou,Janitha en sy seuns Petrus en Ian, en almal wat so lekker lag as hy na homself as ‘n ou-toppie atleet verwys.

Peet van Breda is ‘n duidelike bewys dat ouderdom nie in jou pad hoef te staan solank jy fiks en aktief is nie.
Peet van Breda is ‘n duidelike bewys dat ouderdom nie in jou pad hoef te staan solank jy fiks en aktief is nie.
Peet spring weg uit die blokke tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Sy span behaal uiteindelik goud in hierdie aflos item.
Peet spring weg uit die blokke tydens die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Sy span behaal uiteindelik goud in hierdie aflos item.