Thabazimbispan in vir Avontuur Wedren

THABAZIMBI – ‘n Span bestaande uit atlete uit Thabazimbi is hard besig om hulle voor te berei vir die uitputtende 500km Africa Expedition avontuur wedren.
Die Africa Expedition is ‘n avontuur wedren wat oor ‘n afstand van 500km strek. Hiervan is 250km bergfietsry, 150km stap/draf en 100km roei. Hierdie afstande moet afgelê word deur met ‘n kompas te navigeer na punte wat gemerk word op ‘n kaart wat verskaf word.
Indien jy verdwaal mag dit dalk gebeur dat jy heelwat meer as die afgemete afstand gaan aflê. Deelnemers kry 5 dae om al die punte op te spoor en die einde te bereik.
Dit is die groep se eie inisiatief wanneer daar geslaap word en of daar ooit geslaap word.
Die wedren word in span formaat van vier lede gedoen deur spanne wat van regoor die wêreld kom. Vanjaar word dit in Port Edward vanaf 24 Mei tot 31 Mei aangebied.
Besoek gerus www.Kineticgear.co.za vir meer inligting.

18-Urban Challenge Harrismith spanGone Racing, Thabazimbi se inskrywing vir die Urban Challenge, is op die foto vlnr: Dallas, Pieter, Johan en Wilma net nadat hulle aan ‘n uitdagingsren, ter voorbereiding vir die groot 500km Arica Expedition wedren, in Harrismith deelgeneem het.