Noue ontkoming na kabel ontplof

THABAZIMBI – Julius Pistorius (39), ‘n elektrisiën werksaam in die ingenieursafdeling by die Kumba Thabazimbi Myn, het Woensdag 16 April, derdegraadse stralingsbrandwonde aan sy gesig en nek opgedoen tydens ‘n verlore-tyd besering.
Die ongeluk het omstreeks 12:45 gebeur toe ‘n kabel waaraan hy gewerk het skielik ontbrand (flashed) het.
Julius is in Medi Clinic op Thabazimbi opgeneem en gestabiliseer. Hy is daarna per ambulans oorgeplaas na die Milpark Hospitaal in Johannesburg waar sy toestand beskryf is as ernstig maar stabiel.
Sy eggenote, Riaana, wat deeltyds by Kwêvoël werk, was juis besig om te help met die samestelling van verlede week se koerant, toe sy die tyding van die ongeluk ontvang het. Sy is later die aand ook deur na Johannesburg en was by hom totdat hy ontslaan is. Julius sterk tans tuis aan.
‘n Woordvoerder van Kumba sê in ‘n mediavrystelling dat ondersoek na die oorsaak van dié voorval reeds aan die gang is. ‘n Program is ook van stapel gestuur om vir Julius en sy familie by te staan totdat hy ten volle herstel het.
Volgens Riaana is die lens van een oog beskadig, maar behoort dit ten volle te genees. Gelukkig is die brandwonde aan sy gesig en nek meer soos ‘n erge sonbrand en behoort hy geen letsels oor te hou nie.
Thabazimbi Myn het een van die beste veiligheidsrekords van al die myne in die land en slegs drie verlore-tyd beserings is sedert 2013 aangeteken. Die woordvoerder het afgesluit deur daarop te wys dat Kumba as geheel, vir die hele 2013, geen lewensverliesvoorvalle gehad nie en werk hard daaraan om sy werkers veilig by die werk te hou. 17-Julius 19 April

 

Foto links:

Julius Pistorius het rede om te glimlag na sy noue ontkoming toe hy stralingsbrandwonde aan sy gesig en nek opgedoen het, terwyl hy met herstelwerk aan ‘n elektriese kabel besig was.