Renoster op Nasionale pad

THABAZIMBI – Thabazimbi Beskerming het berig dat die renoster wat op Dinsdag middag 15 April op Thabazimbi/Northam pad vir groot oponthoud gesorg het, veilig aangekeer is.

Na wat beweer word was die sleepwa waarin die Renoster vervoer is in ‘n ongeluk betrokke en het die Renoster vrygekom uit die wrak en die twee persone wat hom vervoer het aangeval. ‘n Lid van die publiek wat hierdie toneel aanskou het, het hulp verleen deur met sy voertuig die twee persone wat reeds erg beseer is te beskerm en sodoende hul lewens gered.

Die pad is afgekordon om te verhoed dat die Renoster wat vrylik op die pad kon rondbeweeg nie verdere skade aanrig nie. ‘n Plaaslike veearts is ontbied wat gesorg het dat die renoster veilig aangekeer is en oorgelaai is na ‘n ander voertuig.

Renoster 2
‘n Onbekende persoon, besig om die renoster af te keer.
16-Renosters 1
Die ongelukstoneel waar die renoster met die sleepwaentjie, wat op sy sy lê.