HFM tieners skryf oor renosterstropery

THABAZIMBI – Die Gr 8-klas van juf Liezel Fouché moes, ter ondersteuning van Nasionale Renosterdag op 22 September, ‘n taak oor renosterstropery saamstel. Die taak het ‘n plakkaat oor renosterstropery, sowel as ‘n skrywe in die vorm van ‘n koerantberig, ingesluit. Zelmari Davel, Daniël Koekemoer, Karla de Beer en Ananda Lategan se berig is deur die Kwêvoël-span gekies om gepubliseer te word.

“Mens kan die vraag vra of Suid-Afrikaners bereid is om toe te kyk hoe een van die meer prominente simbole van ons natuurerfenis so uitgeroei word dat dit vir ons kinders se kinders slegs op toekomstige R10-note behoue sal bly.

Suid-Afrika is die land waar die meeste renosters aangetref word, maar ook die land waar die meeste renosters gestroop word. Witrenosters sowel as swartrenosters word gestroop. Die renosters wat geteiken word, is meestal die witrenoster en bied minder weerstand teen verdowingsmiddels as wat die swartrenoster doen. Die witrenoster word ook geteiken as gevolg van sy horing se dikte en lengte. ‘n Horing kan tot 7kg swaar word en verkoop teen R400 000 per kilogram. Meer as 50% van die horings word na Oosterse lande uitgevoer. Renosters word gestroop vir hulle horings wat volgens die Oosterse nasies medisinale eienskappe bevat wat siektes, soos kanker, genees.

Daar is onlangs deur ‘n 8-jarige seuntjie gevra of hy nie met die stropers kan reël dat hulle die horing moet neem, maar die renoster lewendig kan hou nie. As ‘n kind hierdie oplossing kan raaksien, hoekom is dit vir hoogs intellektuele wetenskaplikes so moeilik om raak te sien?

In plaas van om een van ons Groot Vyf uit te roei, kan ons die renosters se horings elke twee jaar oes, sonder dat dit die renosters se gedrag of hulle reproduksie sal benadeel.

Indien ‘n renoster elke twee jaar ‘n maksimum van R800 000 se waarde in horing kan produseer, is dit logies dat meer wildsplaaseienaars die diere sal begin aankoop en gevolglik met hulle sal begin teel.

Die regering kan ook ingryp deur die renosters by wildsplaaseienaars te koop en hulle te verskuif na ‘n groot stuk grond waar die renosters deur die weermag beskerm word.

Daar is vele organisasies in Suid-Afrika wat help met die beskerming van ons land se renosters. Hierdie organisasies samel fondse in, bied beskerming aan die renosters en hulle doen enigiets om ons renosters veilig te hou.

Ten spyte van die feit dat Suid-Afrika ‘n ondertekenaar is van die konvensie wat Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITIES) beheer, mag Suid-Afrika se renostereienaars nie met renosterhoring handeldryf nie. Die grootste enkele rede hiervoor, is waarskynlik dat renosterbewaring in Suid-Afrika nie voldoende beskryf word nie.

In 2011 is daar ‘n totaal van 448 renosters gestroop en in 2012 ‘n totaal van 668 renosters. Vanjaar is daar alreeds 540 renosters gestroop en word daar vermoed dat teen 2015 geen wit- of swartrenosters oor sal wees nie. Daar word daagliks ongeveer twee renosters gestroop.

Suid-Afrika word aangemoedig om voorvalle van stropery en wenke aan te meld by die anonieme wenklyn: 0800 205 005 en 08600 10111. Hulle kan ook die misdaadlyn kontak by 32211.”

38-Renosterma dragtig

Melanie, Johan, Sean en Monica se berig het hierdie foto van die ongebore kalfie gewys wat uit ‘n gestroopte renosterkoei gesny word.