Thaba groet ‘n vriend

THABAZIMBI – David Schalk Birch (57) is op Maandagoggend 10 September 2012 aan ‘n hartaanval oorlede, kort nadat hy by sy werk opgedaag het.

Dave is in Bloemfontein gebore en het sy groot liefde, Welita, in Std 8 ontmoet. Dié skoolkys het ontwikkel in ‘n diepe liefde en die verliefdes het in hul vroeë twintigs ewige trou aan mekaar beloof. Uit die huwelik van 35 jaar, is twee seuns gebore, Morné en Wayne.

Dave het sy CAIB-bankgraad verwerf en het saam met sy gesin in 1997 na die Bosveld verhuis om as Eerste Nasionale Bank se bestuurder die leisels oor te neem.

In Maart 2003 bedank hy by FNB en sluit aan by die Statisfin-span by Obaro waar hy as finansiële adviseur sy liefde vir mense uitleef.

Dave was bekend vir sy voëlboerdery en het ‘n sagte plekkie vir sy geliefde duiwe gehad. Hy sal altyd onthou word as ‘n man met ‘n wonderlike sin vir humor, sy vriendelike, hulpvaardige geaardheid en swakpunt vir ‘n lekker koppie boeretroos.

Hy laat sy eggenote, Welita, hul twee seuns, sy broer en drie susters na. Sy familie, vriende en die gemeenskap betreur sy heengaan.

Dave se begrafnisdiens vind plaas, vandag, Vrydag 14 September om 11:00 vanuit die NG Kerk Thabazimbi. Die diens sal deur Ds Thinus Benadé gelei word.

Die Birch-gesin bedank graag almal wat hulle bygestaan het in hierdie tyd, en steeds bystaan: Die personeel van Obaro, die dokters en personeel van Medi-Clinic, Madelein en Gerrie Raubenheimer, Neels en Heleen Brits (ou Staalaasvoëls), ds Benade, ds Mareé, ds Kalfie Loots en ds Abraham Groenewald; Elise by Doves en ‘n spesiale dank aan hul familie, vriende en die gemeenskap vir al die sms’e, oproepe, eetgoedjies, besoeke en ruikers.

Morné en Wayne bedank graag hulle ma, Welita, vir die eggenote wat sy vir hul pa was, vir die liefde wat sy hom gegee het en die kosbare herinneringe wat hulle altyd sal koester.

‘n Glimlaggende Dave Birch, soos almal hom sal onthou.