Te voet? Basta!

Week 37 – 14 September 2012

 

Seker die absurdste verskoning om nie skool toe te gaan nie, asook om skole, biblioteke en reisende biblioteke af te brand, het die afgelope tyd na vore getree. Dit is naamlik die 16 000 leerders in Kuruman se wêreld wat van hulle “voorreg” van onderwys ontneem is.

Die rede: Van hulle moet 7km skool toe stap omdat mini taxi’s nie die gevaarlike grondpad wil aandurf nie uit vrees dat hulle dalk ‘n ongeluk sal maak. Hulle oplossing hiervoor: Die regering moet die pad teer. Wat daarvan dat die taxi’s nie teen hulle gewone roekelose spoed ry nie, maar net binne die beperkinge van die lelike pad? Dat ‘n teerpad nou in die plek van jou toekoms staan.

Natuurlik onthou hierdie leerders wat na 1994, en hul ouers wat ‘n dekade of wat voor hulle gebore is, nie die tyd toe teerpaaie slegs tussen hoofdorpe en stede bestaan het nie. Daai tyd was daar nie eens taxi’s nie, net rooi spoorwegbusse. Wat nog te sê van ‘n teerpad tussen Vryburg en Kuruman. Die plek het seker in die sestiger jare die eerste teerpad gesien toe Sishen as myn ontwikkel is.

Selwers het ek in die sestiger jare eerder die 3km grondpad skool toe en 3km terug met my eie fiets, wat ek met my spaargeld gekoop het, gery. Partykeer sommer kortpad deur die veld as ek bietjie laat was, eerder as om saam met my pa, wat onderwyser by dieselfde skool was, te ry omdat ek nie die verskoning as onderwyser se kind ooit wou gebruik nie. Na skool was daar nog musiekonderrig, tennis en swemoefening wat ek op dieselfde grondpad skool toe en terug gery het. Soms drie keer per dag. As die fiets se wiel pap was en ek nie tyd gehad het om dit te “patch” nie,  het ek maar net ‘n bietjie vroeër begin stap. Skuus ek vergeet. Baie mense ry nie fiets nie want dit herinner hulle so terug na daardie dae voordat vryheid in Suid-Afrika uitgebreek het.

My pa moes as kind soggens eers die melkbeeste in die middel van die winter in Edenburg se wêreld (in die Vrystaat waar mens baie ver kan sien en dit ongelooflik koud kan raak) bymekaar maak voordat hy kaalvoet deur die hard gerypte grasvlaktes skool toe gestap het. Later het hy ‘n perd gehad waarmee hy sy voorskoolse verpligting nagekom het. Dit  was nog in die dae net na die Anglo Boereoorlog, toe die oorheersers, die Engelse onderwysers, kinders wat Afrikaans in die klas gepraat het in die hoek van die klaskamer laat staan het met ‘n narhoedjie op hulle koppe as die “Ass” in die klas. Tog het hierdie Afrikaanse kinders nie die skole en biblioteke afgebrand of daarvan weggebly nie. Hulle het besef dat nieteenstaande die anti-Afrikaanse houding van die Engelse en hul ingevoerde onderwysers om hierdie “onopgevoede Afrikaners” op te voed, dit hulle skakel tot ‘n beter toekoms is. Miskien omdat hulle ook die waarde van papier en die gedrukte boeke met al die kennis daarin besef het. Ek twyfel of daar een ongeletterde kind in die Noorde van Suid-Afrika aangeland het na afloop van die Groot Trek. Dat hulle verby baie Afrikane getrek het wat gedurende hierdie tyd nie die moeite gedoen het om geletterd te raak nie, is seker ook baie na aan die waarheid.

Hierdie Kuruman aangeleentheid laat dit al lyk asof die drang na geleerdheid dalk ‘n genetiese oorsprong het. Waar is hierdie kinders se ouers? As jy nie ‘n drang na geleerdheid het nie moet dit eerder met die roede by jou ingedonner word. Dit wil al hoe meer lyk asof die meeste ouers die roede vrygespring het, daarom die laksheid om die oproermakers uit die weg te ruim en te sorg dat hul kinders toegang tot geleerdheid kry.

As die wil tot geleerdheid nie binne jouself bestaan nie, kan geen regering jou oorreed om anders daaroor te voel nie.

Limpopo, en blykbaar nou ook die Oos-Kaap, is ‘n sprekende voorbeelde daarvan met die vernietiging van skoolhandleiding, voorgeskrewe werke en handboeke. Dit nogal sonder enige inmenging van die owerheid, behalwe die halfhartige pogings deur kommissies van ondersoek wat net ‘n verdere las op die belastingbetalers se skouers plaas.

As dit nie die absurde waarheid was nie, was Suid-Afrika die wêreld se grootste sirkus.