Gefnuikte rooftog by OTM

THABAZIMBI – Die oplettendheid van ‘n inwoner van Thabazimbi het moontlik daartoe gelei dat ‘n poging tot OTM roof verhoed is.

Volgens die SAPD het die man op Sondagmiddag 9 September verby ‘n plaaslike OTM gestap en onraad vermoed nadat mans verdag opgetree het by die OTM. Hy het dadelik hom gehaas na die polisiestasie, waarna polisielede na die toneel ontplooi is.

Die mans het moontlik snuf in die neus gekry en hulle uit die spore gemaak.

Die SAPD bedank graag die man vir sy oplettendheid, die Thabazimbi boere vereniging, Makoppa en Koedoeskop GPSF vir hulle vinnige reaksie om die omliggende paaie en kruisings te monitor.

Indien u enige verdagte optrede gewaar, kontak die stop misdaad nommer by 08600 10111.