Eskom kontrakteurs nalatig op plase

Eskom het van ‘n firma wat omgee vir die natuur en die boere, verander na ‘n firma wat die natuur en boere vandaliseer.

Verlede week het ‘n kontrakteur vir Eskom, met ‘n trugrawer gate vir nuwe pale kom grawe. Hierdie gate is ongeveer 3 meter diep, 2.5 meter lank en so 0.85 meter breed en net so oop gelos en die boere is nie eens in kennis gestel dat hulle sulke gevaarlike diep gate grawe nie.

Twee boere wat ons van weet, moes kalwers uit hierdie diep gate red.

Elke gat moes dus toegepak word met takke, stompe of sinkplate. Gelukkig vir die kalwers kon hulle gered word, indien hulle nie vinnig gesien was nie, was hulle dood.

Verskeie Eskom kontrakteurs het oor die jare boere se bloeddruk opgejaag deur hul onverantwoordelike dade. Een kontrakteur het ‘n paalboor gebruik, die gate was maande oop, dus het jy beeste gekry wat hulle bene in die gate beseer het. ‘n Ander kontrakteur het die pale kom plant, maar slegs elke tweede of derde paal is geplant. Hierdie kontrakteur het die ou pale afgesaag, soos die pale geval het, het porselein isoleerders gebreek. Al hierdie glasstukke, ankerdrade en pale is net so gelos.

Bome onder die drade is al deur kontrakteurs  afgesny, selfs beskermde Kameeldorings, Tambotie en Hardekool bome is afgesaag, die bome se naaste takke was meer as 2 meter van die draad af en hierdie reuse sou in der ewigheid nie meer tot naby die drade kon groei nie. Na die boer dit agtergekom het en daaroor gepraat het, het die kontrakteurs elke keer as hulle in of uit die plaas ry, die hekke oopgelos en die boer moes al twee keer die beeste in die grootpad gaan haal. Al wat hulle sê is “sorry” maar die volgende dag is die hek weer oopgelos.

Al hierdie probleme is gereeld aan Eskom gerapporteer, net soos verlede week se gevalle ook. Eskom sê hulle sal die saak ondersoek, maar jy hoor nooit weer van hulle nie. Hierdie vorige gevalle is nie net telefonies gerapporteer nie, maar ook skriftelik.

Eskom het die houding jy kan die kontrakteur dagvaar, maar selfs hulle weet nie waar die kontrakteurs is nie, want hulle word vooruitbetaal en verdwyn voor die werk heeltemal afgehandel is.

Ems Strydom