Die plaaslike koerant

Week 38 – 21 September 2012

Die Kwêvoël is tans in sy 30ste bestaansjaar. ‘n Mylpaal wat slegs bereik kan word deur die voortgesette ondersteuning van die gemeenskap.

So tussen hakkies. Die plaaslike koerante soos Kwêvoël mag hulself nie meer gemeenskapskoerante noem nie. Die onlangs-gestigde MDDA wat met groot finansiële steun van die ANC regering op die been gebring is maak nou volgens wet op die benamings “Gemeenskaps-koerant” en “Community Press” aanspraak. Koerante soos Kwêvoël is nou ewe-skielik plaaslike koerante of te wel local newspapers. Kwêvoël het in sy hele bestaan nog nooit net plaaslike nuus gegee nie, maar ook nuus wat van belang vir die hele gemeenskap was. Dit het ook daartoe gelei dat die jaarlikse landwye kompetisie vir die gemeenskapspers, waar Kwêvoël heelwat pryse gewen het, tot die kaping van die funksie deur die MDDA, ook nie meer deelneem nie.

Sedert die ontstaan van LiN Media, waarvan party plaaslike koerante wat nou ook in Thabazimbi versprei word, nie lid is nie, word die nuus nou nog wyer gedeel. Kwêvoël is maar een van 11 koerante in Limpopo wat nuus deel om aan die lesers ‘n wyer siening van die nuusgebeure in Limpopo te gee. LiN Media se voetspoor is oor die hele Limpopo provinsie, sonder om die plaaslike gemeenskap af te skeep. (LiN Media lidmaatskap kan slegs verkry word op uitnodiging van die direkteure van LiN Media). Hierdie streke sluit, buiten die Thabazimbi munisipale distrik, ook die distrikte van Lephalale (Ellisras) Vaalwater, Bela Bela (Warmbad), Mookgophong (Naboomspruit), Mokopane (Potgietersrus), Modimolle (Nylstroom), Louis Trichardt, Tzaneen en Hoedspruit-omgewing in. Dit wat jy dalk in die nasionale-vlak media mis wat betrekking het op Limpopo, sal jy tien teen een in een van die LiN Media plaaslike koerante of op hulle webtuistes kry.

Juis om hierdie rede kon Kwêvoël byvoorbeeld ‘n baie oorspronklike en professionele weergawe in laas week se koerant lewer van die gebeure tydens die Medupi staking en die daaropvolgende brandstigting sonder om lesers te bemoei met onnodige leesstof. Lede van LiN Media beskik oor joernalistieke-ondervinding van elf koerante wat oor ‘n gemiddelde tydperk van meer as 40 jaar bymekaar gemaak is. Indien u belangstel om eerder opstelletjies (redaksionele kommentaar nogal) te lees van hoe mammie saam met haar seuns in die see baljaar, koop gerus die ander koerant wat ook in Thabazimbi en omgewing versprei word. Jy spaar miskien ‘n rand of twee maar sal steeds nog niks weet van wat in die dorp gebeur het of gaan gebeur nie.

Dit is nou maar so. Daar sal altyd iemand wees wat op die rug van ‘n ander se sukses wil ry. Dertig jaar gelede was die plaaslike sakesektor glad nie ingestel op die krag van advertensies in die plaaslike media nie, want daar was geen plaaslike media nie. Advertensie kom teen ‘n prys. Die prys word bereken op hoe die betrokke publikasie geslaag het om die advertensie in die leser se sitkamer te kry deur beriggewing wat die gemeenskap interesseer en betrek om wel daardie publikasie te koop. Hiermee saam kom daar ‘n waarborg. Die lesers ken die koerant, vertrou die adverteerders en weet dat hulle advertensies raak gesien word terwyl die leser sy koerant rustig in sy sitkamer, in die kantoor of op die toilet sit en lees. Daarby is hy/sy ook nie skaam dat iemand die koerant in sy huis of in sy hand sien nie.

Kwêvoël beskik oor ‘n gewaarmerkte drukoplaag wat geen advertensieblaadjie jou kan bied nie. Dit beskik ook oor ‘n rekord van verkope en gratis uitgifte van die koerant in die dorp. Moet nie sommer iemand anders se woord aanvaar oor hoeveel koerante of advertensieblaadjies hulle versprei nie.

Die ongeluk is dat indien al die besighede agter goedkoop advertensies aanhardloop sonder dat hulle weet of hulle advertensies hul teikenmark bereik, vat hulle dieselfde kans as om ‘n boodskap in ‘n bottel in die see te gooi, want daar jy sal nooit weet of jou boodskap by die regte adres uitgekom het nie.

Jy het jou geld gemors. Jou advertensie het dalk in die asblik beland en jy gaan dit nie eens weet nie. Dit is nie dat advertensies nie werk nie, jou teikenmark en hoe jy dit gaan bereik was nie gewaarborg nie.

Hierdie goedkoop advertensies verdeel die mark wat moet sorg dat nuus op ‘n bestendige en haalbare manier aan die gemeenskap oorgedra kan word. Met hierdie advertensie-inkomste wat nou in sakke van instansies of persone beland wat geen bydrae lewer tot die deurgee van nuus in die dorp en omgewing nie, word die rol van die koerant in die gemeenskap geweldig ingekort wat uiteindelik kan lei tot die opskorting van sekere nuusgebeure in die dorp en omgewing.

Sonder kommunikasie sal jy nog minder weet wat die munisipaliteit en die regering beplan. Om nie eens te praat van die suksesverhale en nuus vanuit ons gemeenskap nie.