Meter hoë vlamme verbrand spruit

THABAZIMBI – Die Rooikuilspruit is op Saterdag, 1 September, deur kwaaddoeners in die omgewing van Huis Immergroen aan die brand gesteek.

Die misdaad van opsetlike brandstigting kom al hoe meer in Thabazimbi voor. Die brandverbod, wat sowat ‘n maand gelede gehef is, sal eers gelig word wanneer daar sowat 25mm reënval in Thabazimbi aangeteken is.

Renette Lategan van Thabazimbi Brandbeskermingsbeheer vra dat die inwoners die noodnommer om brande te rapporteer te gebruik wanneer hulle ‘n brand gewaar. Volgens Renette is daar tydens die brand op Saterdagaand nie eiendom beskadig nie.

Die spruit het agter Hibuscusstraat tot by ‘n bekende pizzeria gebrand. Teen Donderdag was deur steeds smeulende bome wat in die pad van die vuur gestaan het.

Inwoners van Hibuscusstraat het aan Kwêvoël gesê dat hulle laatmiddag geruik het iets brand. By nadere ondersoek het hulle gesien die spruit is aan die brand. Meter hoë vlamme het tot teen besigheidsmure gelek en het saam met die wind afwaarts gehardloop. Alhoewel die inwoners benoud was oor die vinnig verspreide vuur, is hulle ietwat verlig dat die spruit bietjie “skoongemaak is”.

Die nommer is die Verkeersbeampte op bystand by 083 687 1883.

Meter hoë vlamme het die lug Saterdagaand verlig nadat kwaadwillige brandstigters die Rooikuilspruit aan die brand gesteek het.