Oud landdros rus nou

THABAZIMBI – Oud-landdros, Raymie Verster, is op 15 Augustus 2012 in die rype ouderdom van 97 jaar oorlede.

Oom Raymie en sy eggenote, tannie Mien, wat hom reeds jare gelede ontval het, het in 1963 vanaf Odendaalsrus na Thabazimbi gekom. Die Thabazimbi gebied was vroeër ‘n subdistrik van die Rustenburgse landdrosdistrik en hy was die eerste landdros van die afsonderlike landdrosdistrik Thabazimbi.

Hier op Thabazimbi het hy diep spore getrap wat deur baie ou inwoners onthou en steeds gerespekteer word.

Oom Raymie het in 1935 diens aanvaar as klerk in die destydse departement van Lande en het in 1947 deur privaatstudie regskwalifikasies behaal. Hy is in 1949 oorgeplaas na die departement Justisie in Durban waar hy as staatsaanklaer gedien het en is tot in 1952 tot landdros op aflospersoneel bevorder.

Vanaf 1954 tot 1956 dien hy as senior staatsaanklaer in Port Elizabeth en daarna landdros op talle plekke onder andere Petrusburg, Viljoenskroon, Phillipstown, Warrenton, Klerksdorp, Odendaalsrus en Thabazimbi.

Vir sy laaste agt jaar as landdros dien hy in die siviele afdeling te Johannesburg waar hy in 1976 as hooflanddros die tuig neergelê het. Hy en tannie Mien het hulle daarna op hul plaas, Coventry, digby Sentrum gevestig. In 1995 het hulle na die Protea rusoord in Pretoria verhuis.

Oom Raymie se roudiens het plaasgevind op 21 Augustus vanuit die Protea Aftree Oord Saal te Pretoria. Die diens is waargeneem deur dr J Potgieter.

Oom Raymie Verster (97), oud-landdros van Thabazimbi, is op 15 Augustus 2012 oorlede. Die foto is op Coventry deur Kwêvoël geneem op sy 80ste verjaarsdag.