Dubbelstandaarde! Wie? Ek?!

Week 35 – 31 August 2012

Teenstanders van die ANC regering is geneig, en nie sonder rede, om die regering se beleid wat ‘n sprekende voorbeeld van dubbelstandaarde is, te kritiseer.

Voordat enigeen dit kan doen moet elkeen maar net die hand in eie boesem steek en hom of haarself daarteenoor beoordeel.

Almal is ontevrede oor die hoë vlak van misdaad in die land waar jou selfoon dikwels meer werd is as jou lewe. Baie mense wat hieroor kla is tog bereid om ‘n tweedehandse selfoon by ‘n straatsmous of  by die winkeltjie om die hoek, waaroor almal in elk geval kla omdat die eienaars van elders kom en waar geen waarborge uitgereik word nie, te koop. Het jy al daaraan gedink dat hierdie selfoon, skootrekenaar of GPS dalk onwettig bekom is of dat iemand met sy lewe daarvoor geboet het? Hoekom kla oor misdaad as jy help om die mark daarvoor te skep?

Net soos om ‘n horlosie by dieselfde straatsmous te koop terwyl jy weet dat die handelaar wat ‘n soortgelyke item aan jou verkoop het jou ongeduld moes verduur omdat iets nie volgens jou 100% met die artikel was nie. Het jy die handelaar bedank soos jy die straatsmous bedank het vir die winskopie toe die probleem uitgestryk is, of het jy die kans geneem om die handelaar te probeer oortuig dat jy die item wat jy by die straatsmous gekoop het en wat nou probleme gee, by die spesifieke winkel gekoop het?

Dit is ‘n onbetwisbare feit dat baie misdaadgevalle toegeskryf kan word aan onwettige immigrante wat as gevolg van die regering se swak grensbeheer ten opsigte van veral mense uit Afrika die land binnegekom het en steeds binnestroom. Baie van hulle het nie eens verblyf- of werkspermitte nie. Die meeste werkpermitte gee aan hulle slegs die toestemming om as huis- of tuinhulp te werk.

Weet jy ooit of jou buitelandse huishulp of tuinier oor die nodige toestemming beskik om in Suid-Afrika te mag werk en dat hy/sy slegs die werk doen wat op die werkpermit gespessifiseer is? Indien nie – Moenie praat van patriotisme en hoe dinge anders kan wees nie. Jy is deel van die probleem.