Vetveeveiling Rekord

Deur Ems Strydom

NORTHAM – Die jaarlikse vetveeveiling was ‘n reuse sukses met ‘n omset van  R2,096,300.00

Augustus is vroue maand en die dames het bykans skoonskip gemaak, met die pryse. Die ses afdelings wat teen mekaar meegeding het, was swaarste slagbees, enkel bees gewissel, enkel bees ongewissel, beste groep van vier gewissel en beste groep van vier ongewissel.

Krystle Herholdt se twee “reuse” het die skaal laat kreun met ‘n allemintige 1245 kg elk. Hierdie twee osse het elk R30 000 behaal, wat R24/kg op die hoef is. ‘n Baie goeie prys! Sy het dus die swaarste slagbees prys, met die twee ingepalm. Kort op haar hakke was Auther Webster se os wat die skaal op 1235kg, ‘n skrale 10 kg minder as die wenner, laat swaai het. Hierdie os het R26 000 gehaal.

Die ander afdelings waar Krystle met die louere weggestap het, was eerste en tweede pryse in die volgende afdelings: Enkel bees ongewissel, groep van vier beste beeste ongewissel en enkel bees gewissel.

Marthie Schoeman het die prys van die swaarste slagkoei ingepalm en die mans moes maar tevrede wees met Zwei Herholdt se prys van die beste gewisselde groep van vier.

Northam Boerevereniging (Boernor) en Vleissentraal bied jaarliks hierdie vetveeveiling aan. Hulle is ook van die hoofborge, saam met Obaro, Molatek en Afrivet. Die totale beeste op die veiling, saam met speenkalwers was 284, wat jou ‘n gemiddelde prys van R7405 per bees gegee het.

Zwei Herholdt het al die Herholdts se pryse in ontvangs geneem, hy staan heel links, langs hom Marthie Schoeman, wenner beste slagkoei, Joggie van Bruggen voorsitter Boernor, Dries Wolmarans afslaer vir die dag en Francois de Wet, Obaro.