Trophy Breeders bied eerste veiling in eie lokaal

THABAZIMBI – Die Trophy Breeders Games Sale het beslis met ‘n groot impak Vrydag 17 Augustus afgeskop met hulle eerste veiling wat in Thabazimbi gehou is. Dit was miskien nie ‘n wildveiling met ‘n rekordomset nie, maar vir die eerste keer is dit op hul eie perseel gehou en het daarmee saam ‘n geweldige inspuiting gegee tot Thabazimbi as die top-wildstoet-telers-mekka.

Met soveel trofee-wildboere wat etlike jare gelede hul reeds in die Thabazimbi Bosveld gevestig het, is ‘n droom uiteindelik bewaarheid waar van die land se voorste wildstoet-telers bymekaar gekom het en besluit het om hul basis op Thabazimbi te vestig, en die eerste Trophy Breeders Game Sale hier plaaslik aan te bied. Baie van die lede van Trophy Breeders is in die Thabazimbi Bosveld gevestig en was die besluit maklik om dit hiervandaan te doen. Hulle het saam met die Trollope familie saamgespan en die Wesley Trollope saal op die Thabazimbi skouterrein omskep in ‘n byeenkomsplek waar talle voornemende kopers in ‘n nuutomskepte gebou met lugversorging op die talle puik stoetwilddiere kon bie. Buiten dit het dit ook gesorg vir ‘n nuwerwetse toevoeging tot die fasiliteite wat die Thabazimbi Skouvereniging kan bied.

Trophy Breeders verkopers bestaan uit: Ammondale – Barry & Magda Streicher;

Buffalo Creek – Wicus & Hannes Pretorius; Dries Visser Game Breeders – Dries Visser Snr en Jnr; Exotic Game Breeders – Miguel Ferreira en Lee Cannata; Genius Loci – Willie Saayman; Meletse Game Breeders – Louis van der Watt en Thinus van den Berg; Motswere Game Ranch – Jan en Elsa van den Heever; Palala Game Farms – André, Jurie en Arnold du Plessis en Pymat – Pieter en Yvonne Prinsloo.

Kopers van sover af as Suid- Noord-Kaap, Natal en die Vrystaat, het die veiling bygewoon. Met sestien helikopters en sewe vastevlerkvliegtuie, is ‘n beheertoring opgestel om die vliegtuie en helikopters ordelik te hanteer.

Vir hierdie eerste veiling op hul tuisbasis is die meeste diere per katalogusveiling aangebied wat ‘n opbrengs van R43,248 Miljoen gelewer het. Die diere op hok  het hoofsaaklik uit buffels en njala teelgroepe bestaan. Die totale omset vir die hok veiling was R25,52 Miljoen wat die totale omset van die veiling op R68,78 Miljoen gebring het. Die diere is van hoogstaande gehalte, wat tot gevolg gehad het dat 8 Suid-Afrikaanse rekords verbeter is en een ge-ewenaar is.  Sommige rekords is verskeie kere oortref.

Vir ‘n slag het vroulike spesies teruggeveg met die rekordpryse en Kruger Buffels het gegaan vir R2,8 miljoen vir ‘n Kruger Buffelkoei (ou rekord R800 000) teenoor die beste van ‘n Oos Afrika buffelkoei vir R1,5 Miljoen. Selfs Krugerbuffelverse het gegaan teen ‘n gemiddeld van R422 777 met ‘n hoogste van R1,25 Miljoen (vorige rekord R760 000).

Onder die vroulike diere was ook twee bastergemsbokke wat vir ‘n rekord van R420 000 vir ‘n koei en vers betaal is en twee bastergemsbokverse wat elk R290 000 behaal het.

Onder die ander rekordpryse was Koedoekoeie wat verkoop is teen R48 000 teenoor die ou rekord van R7 400; ‘n swartrooibokooi wat verkoop is teen R340 000 teenoor die vorige rekordprys van R240 000; bastergemsbokkoeie wat verkoop is teen R420 000 teenoor die vorige prys van R230 000; bastergemsbokverse wat verkoop is teen R290 000 teenoor die vorige rekord van R260 000, Matetsi x Zambiese swartwitpenskoeie wat verkoop is teen R460 000 teenoor die vorige rekord van R360 000 en die Zambiese swartwitpenskoeie van Dries Visser wat teen R1 Miljoen verkoop is met die vorige rekord op R925 000. ‘n Hartwater springbokram het die rekordprys van R90 000 geëwenaar.

Skaarspesies soos die goue wildebeest en swartspringbokke het gemiddelde pryse behaal en daar is ‘n waarneembare swaai terug na spesies wat steeds hulself kan bewys as trofee-spesies wat hul waarde kan behou. Vir jongboere wat besig is om hul kuddes op te bou en bloedlyne te versterk was daar ‘n paar winskopies.

Die leeu wat ook op die veiling aangebied is, is onttrek toe die minimumaanbod nie verkry kon word nie.

Van die ander wild wat ook aangebied is (gemiddelde prys) het ingesluit blouwildebeeste – R95 000 vroulik); Goue Wildebeeste – R270 000 (manlik) en R358 000 (vroulik); Swartwitpense – R365 454 (koeie) en R233 400 (verse); Zambiese swartwitpens R 260 000 (manlik), R784 285 (koeie) en R862 500 (verse); jong witrenosters R 150 000 (manlik) en R 305 000 (verse); Koedoes – R 60 000 (manlik) en rooibokke – R5 000 (manlik).

‘n Feestelike atmosfeer het gedurende die veiling geheers en vir diegene wat nie die volle vier ure kon bly sit nie was daar ‘n kontantkroeg asook heerlike eetgoed wat beskikbaar was.

Die veiling is aangebied deur Vleissentraal Bosveld met Brandon Leer as afslaer.

Brandon Leer wat die afslaer was tydens die veiling, saam met twee besoekers na afloop van die wildveiling.