Nog kragstasies is enigste oplossing

Suid-Afrika staar ‘n grootskaalse kragtekort in die gesig en kenners meen die enigste langtermyn oplossing is om nog kragstasies in die Lephalale omgewing te bou. Maar die regering sloer met die skep van ‘n regsraamwerk vir die oprigting van private, onafhanklike kragstasies. Die wetsontwerp op elektrisiteitsregulering en die wetsontwerp op onafhanklike stelseloperateurs sloer al drie jaar en bouwerk aan private steenkoolkragstasies kan nie begin voordat dit afgehandel is nie.

Intussen word daar inderhaas spoorlyne gebou om steenkool vanaf die Waterberg, waar vlak steenkoolreserwes van 70 miljard ton tussen Lephalale en die Botswana-grens lê, na Mpumalanga te vervoer,

Volgens ‘n artikel in Sake 24, gaan Suid-Afrika oor ses jaar 40 miljoen ton te min steenkool vir sy jaarlikse behoeftes hê. Dit spruit uit die krimpende steenkoolreserwes in Mpumalanga.

Daar word beweer dat net 5 van die 13 steenkoolkragstasies in Mpumalanga teen 2040 nog steenkool sal hê.

Volgens Sake 24 het Eskom verlede maand inligting van die 15 eienaars van steenkoolreserwes gevra oor hoeveel steenkool hulle vir die Mpumalanga-kragstasies beskikbaar kan stel. Na wat verneem word het Exxaro hom bereid verklaar om 2 miljoen ton per jaar teen 2014 te lewer en dit teen 2018 tot 30 miljoen ton of selfs 40 miljoen ton te verhoog, afhangende van die spesifikasies wat Eskom vereis.

Transnet het hom daartoe verbind om die dravermoë van die spoorlyn teen 2016 tot 23 miljoen ton per jaar te verbeter en dit uiteindelik tot 80 miljoen op te stoot, onder meer om voorsiening te maak vir steenkooluitvoer uit Botswana.

Spoorvervoer is egter net ‘n tydelike oplossing aangesien dit tussen R100 en R200 per ton gaan kos om die steenkool daar te kry. Dit beteken dat die kole tussen 50% en 100% meer gaan kos as die R209 per ton wat Eskom nou vir steenkool betaal uit myne wat meestal langs die kragstasies is. Uiteindelik sal elektrisiteitsverbruikers dié koste moet dra.

Volgens kenners word dit al duideliker dat onafhanklike en privaat kragstasies die sleutel tot die land se energieprobleme is. LiN Media/Noordelike Nuus.