Landbou-onsekerhede moet binne die volgende vyf jaar opgelos word

Dr Pieter Mulder: VF Plus-LP

“As die huidige onsekerhede in die landbou nie binne die volgende vyf jaar opgelos word nie, gaan daar waarskynlik nie oor 100 jaar weer ‘n herdenking van die stigting van die Afrikanerbeestelers-genootskap wees nie vanweë die verlies van kundigheid,” het dr Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Vissery gesê.

Dr Mulder het as spreker opgetree by ‘n glansdinee in Thabazimbi waar die honderdste bestaansjaar van die Afrikanerbeestelers-genootskap gevier is. In Junie 1912, te midde van die onsekerhede na die Anglo-Boereoorlog, het ‘n aantal beestelers bymekaargekom en die Afrikanerbeestelers-genootskap gestig.

“Die grootste probleem tans in die landbou is onsekerheid oor grond en onsekerheid oor verdere regeringsinmenging in die landbou,” het Mulder gesê.

Hierdie onsekerheid word veral veroorsaak deur onverantwoordelike propaganda-stellings wat vir kort termyn politieke gewin gemaak word sonder om die effek daarvan op landbou in ag te neem.

Al wat nodig is om hierdie onsekerhede uit die weg te ruim, is die politieke wil om die regte besluite oor grondhervorming te neem en minder staatsinmenging in die landbou.

Enige politieke leier wat vandag oor grondhervorming praat en nie terselfdertyd ook oor die invloed daarvan op voedselsekerheid praat nie, weet nie waarvan hy praat nie, volgens Mulder.

“Veertig persent van alle beeste in Suid-Afrika behoort aan kommunale en klein boere. Die probleem is dat hierdie boere slegs 5% bydrae tot die vleisproduksie in die land. As hierdie persentasie vermeerder kan word, kan dit ‘n groot bydrae maak om armoede in hierdie plattelandse gebiede aan te spreek,” het dr Mulder gesê.

Dr Mulder het die Afrikanerbeestelers geprys vir hulle bydrae oor 100 jaar om voedsel, melk en vervoer aan die bevolking te voorsien. Die feit dat hierdie beesras op monumente pryk, deur digters vereer is en in volksliede besing word, bevestig die belangrike rol wat dit oor 100 jaar gespeel het.