Koperdiewe slaan weer toe nadat verdagte borgtog kry

Kort nadat ’n landdros op die dorp ’n vermeende koperdief op borgtog vrygelaat het, is meer as R100 000 se transformators en kabels die afgelope twee weke weer in die Bela-Bela-omgewing gesteel.

Die private landgoedforum op Bela-Bela sal op Woensdag, 15 Augustus, ’n versoekskrif aan die hooflanddros in Polokwane oorhandig waarin hulle eis dat die betrokke landdros wat hiervoor verantwoordelik is, uit haar pos verwyder moet word, het mnr. Pieter Raath, voorsitter van dié forum, gesê.

“Na verneem word woon die minister van justisie, mnr. Jeff Radebe, ook Woensdag ’n gemeenskapsvergadering in Polokwane by. Ons gaan ons bes doen om die versoekskrif ook aan hom te oorhandig,” het Raath gesê.

Boere in die omgewing beweer nou dat bewysstukke wat ná die jongste diefstalle op hul grond gevind is, ooreenstem met spore wat tydens die vorige vlaag koperdiefstalle deur die booswigte agtergelaat is.

’n Bende koperdiewe het die afgelope week toegeslaan by Jacques Malan en Seuns op die Thabazimbi-pad net buite Bela-Bela. Nadat die diewe nie daarin kon slaag om ’n transformator van ’n paal af te verwyder nie, het ’n lid van die bende glo teen die paal opgeklim en die transformator bo in die lug gestroop en die koper buitgemaak.

“Hierdie mense is professioneel,” het mnr. Louis Boshoff van Drogekloof gesê. Hy is een van die boere wat sowat vier weke gelede ook die slagoffer van koperdiewe was, gesê.

Dinsdagaand, 31 Julie, het die bende weer toegeslaan. Dié keer by mnr. Barry Wolmarans. “Hier  het hulle 500 m kabel gesteel. Teen R80 per meter vir die 500 m beloop die skade sowat R40 000,” het Boshoff gesê.

Die Rooiberg-polisie ondersoek altwee voorvalle.

Die spore wat op die twee misdaadtonele gelaat is, stem glo ooreen met die bewysstukke van die vorige diefstalle in die omgewing.

“Dit is dieselfde spore as dié wat daar by my gevind is ná die transformatordiefstal. Ons vermoed dit is waarskynlik die spoor van die verdagte wat op borgtog vrygelaat is. Die spoor is buitengewoon en kan maklik uitgeken word,” het Boshoff beweer.

“Ons het die boere in die omgewing gewaarsku om paraat te wees omdat die bende weer in die omgewing besig is.”

Die Mosambiekse immigrant wat op borgtog vrygelaat is, moet weer op Maandag, 13 Augustus, in die landdroshof op Bela-Bela verskyn in verband met klagtes van koperdiefstal.

Die saak spruit uit ’n voorval waarin ’n vermeende koperdief  sowat drie weke gelede eiehandig deur boere in die Drogekloof-omgewing aangekeer is. Die polisie is daarna ontbied en het die verdagte in hegtenis geneem. Toe hy kort ná die voorval in die Bela-Bela-landdroshof verskyn het, is hy deur landdros Mary Matema Mokone van Bela-Bela op borgtog vrygelaat.

Die ondersoekbeampte het beswaar aangeteken teen die borgaansoek omdat die verdagte ’n buitelander is en geen vaste adres het nie.

Mokone het egter beslis dat hy wel ’n adres aangegee het en daarom op borgtog vrygelaat kan word.

?Intussen staan Mokone tereg in die Polokwane-landdroshof op aanklagte van bedrog en regsverydeling. Haar saak kom vandeesmaand weer voor. — LiN Nuus/Die Pos