Droogte knou veiling

ALLDAYS – Die ernstige droogte, veral noord van die Soutpansberge, is so ernstig dat mnr Goosen van Hanley Wildlife Services sy laaste twee veilings gekanselleer het omdat boere net nie meer wild kan koop nie. Hy het dus nie ‘n groot aantal wild by die Alldays veilingskrale op Vrydag 27 Julie aangebied nie, en daar was nie baie kopers nie. Die pryse was dus ook nie baie goed nie.

Die gemiddelde pryse vir die diere op veiling was: 17 blouwildebeeste teen R1976, 10 gemsbokke teen R5225, 23 koedoes teen R2078, 6 njalas teen R5250, 55 rooibokke teen R769, 2 sebras teen R6000 en 8 waterbokke teen R2400. Die gemiddelde pryse vir die manlike diere was: 6 blouwildebeeste teen R2525, 9 koedoes teen R7000, 2 rooihartbeeste teen R7500 en 1 waterbok teen R5500.

Die omset was R337 300.