Afrikaner Beestelersgenootskap vir eeufees

 

THABAZIMBI  – Afrikaners is beslis plesierig en met goeie rede!

Die Afrikaner Beestelersgenootskap vier vanjaar hul eeufees. ‘n Groot fees

is verlede week in Thabazimbi aangebied deur dr Pieter de Kock van Pronk

Afrikaners.

De Kock, voorsitter van die Noord- en Oos-Transvaalse klub, het gasheer

gespeel vir die groot fees wat tydens die 25-27 Augustus in Thabazimbi

gehou is. ‘n Slagos kompetisie in samewerking met SAMIC is aangebied waar

Afrikaners met ander rasse vergelyk is. Diere wat gevoer is, is ook

vergelyk met sg. veldvleis. Besoekers is op ‘n Biltongtoer getrakteer en

was op besoek aan die Marakele Nasionale Park. ‘n Spesiale Eeufees skou is by die Thabazimbi Landbouskou aangebied. Unieke voorbeelde van lang-horing osse is deur Piet van der Walt van Sentrum ten toon gestel.

Die vieringe is afgesluit met ‘n feesmaal by Trekpad Safaris. Die eregaste was De Ridder en Blom, twee Afrikaners, wat die gaste kom verras het terwyl Magda van Biljon ‘n ode aan hulle opgedra het.

Die hoofspreker, dr Pieter Mulder, het die boere geloof vir hul bydrae tot die ontwikkeling van die land en sy ekonomie. “Die Afrikaner verskaf al meer as ‘n eeu lank vervoer, vleis en melk aan Suid-Afrika”, sê die

adjunk-minister van Landbou, Bosbou en Visserye. Hy is bekommerd dat mense en veral politici nie genoeg waardering het vir die rol van die boer nie.

Hy het boere aangemoedig om nie hoop te verloor nie, sodat die Afrikaner

nog ‘n eeu van sukses kan beleef.

Die presiese oorsprong van die ras is nie bekend nie. Daar word gereken

dat die inheemse Bos Indicus diere meer as 2000 jaar gelede van Aden af

deur Afrika gemigreer het. Reeds in die 15de eeu is daar berigte van Khoi

beesboere in die Suid-weste van Suid-Afrika. Die eerste geskrewe verwysing na die ras, vertel van ‘n Kroonstad boer, Josef du Plessis, wat met sy kudde na die ou Transvaal gevlug het gedurende die Tweede Vryheidsoorlog.

Na die oorlog in 1902 was daar ‘n groot tekort aan beeste in die land en

het Du Plessis se kudde die basis van menige kuddes gevorm. Beeste is in

daardie tyd van Europa en selfs Madagaskar ingevoer, maar die Afrikaner

was  die ras wat aangepas was in die harde Afrika-omstandighede. Nog boere wat ‘n bydrae gemaak het tot die vestiging van die ras was Malan,

Pieterse, Ras, De Wet, Lubbe, Greyling, Van Biljon en Jordaan-families.

Die Afrikaner is amptelik in 1912 erken en ‘n stamboek is begin danksy die lojale pogings van Alex Holm van die Potchefstroomse Landbou kollege.

Die Afrikaner Genootskap het ook twee sintetiese rasse onder hul

administrasie, nl. die Afrisim en die Sanganer.

Die uitslag van die Afrikanerbeeste kompetisie by die Thabazimbi Skou was as volg.

Die Afrikaner Beestelersgenootskap vier vanjaar hul 100 jarige bestaan. Dis afgesluit met ‘n feesmaal by Trekpad Safaris, van dr Pieter de Kock (vlnr): Martin Ras (Ere-president), Estienne Cronje, dr Pieter Mulder (hoofspreker), David van der Lince (vise-president), Lynnton Vermaak, Julian Balt, dr Pieter de Kock en Pierre Fouche (president).