Ultimate Model Search vir Mej Skou 2011

Carla Viljoen, verlede jaar se Mej Skou, is nou ‘n finalis in Ultimate Model Search.

THABAZIMBI – ‘n Graad 12 leerling van HFM, Carla Viljoen, is verlede week aangewys as Top 15 semi-finalis vir die hoogs aangeskrewe “Ultimate Model Search SA” kompetisie.

Carla was ook verlede jaar aangewys as Mej Tiener Limpopo 2011 en Mej Thabazimbi Skou.

Al wat nou tussen haar en die wonderlike geleentheid staan om Suid-Afrika volgende jaar te verteenwoordig in Europa tydens “Best Model of the World 2012, Europe”, is die laaste rondte van onderhoude wat met finaliste gevoer sal word op 29 September. Die gemeenskap wens haar alles van die beste toe met hierdie wonderlike geleentheid.

Carla gaan op Donderdag, 26 Julie haar kroon as huidige Mej Thabazimbi oorhandig aan die volgende wenner, wat haar titel met trots sal kan dra.

Inskrywingsvorms is by Thabazimbi SuperSpar beskikbaar en sluit op 25 Julie. Kategorieë sluit in: Meisies 6-9, Meisies 10-13 en Meisies 14-19. Inskrywings moet by Thabazimbi Skoukantoor ingehandig word.

Die deelnemers kry hierdie jaar die geleentheid om in aanddrag te kom spog en punte sal ook hiervolgens toegeken word. Dit is belangrik om te onthou dat hierdie nie ‘n modelkompetisie is nie en meisies sal glad nie volgens tegniek beoordeel word nie.

Kom kyk gerus hoe die meisies skitter op Donderdag, 26 Julie in die Trollopesaal om 18:00, tydens Thabazimbi se jaarlikse Landbou- en Nywerheidskou. Die bekende kunstenaar, Adam Tas sal optree as gasheer en Carla as gasvrou tydens hierdie geleentheid. Vir enige navrae kontak Ursula Roux by 0835846061.