Saktyd! Christian sak saam

Christian Lee (22) van Thabazimbi is een van die dertien finaliste vir die werklikheidsreeks, Saktyd!

GAUTENG – Dertien finaliste, onder andere ‘n oud-inwoner van Thabazimbi, is eersdaags op die kassie in Huisgenoot se eerste werklikheidsreeks, Saktyd, te sien.

Die program word oor die bestek van 13 weke op kykNET uitgesaai en die loodsepisode is op Dinsdag 17 Julie 2012.

Die program is ‘n werklikheidsreeks in samewerking met kykNET, waartydens deelnemers meeding om ‘n werk by Huisgenoot, SA se grootste gesinstydskrif, los te slaan. Die vervaardiger, Mark Veltman van Homebrew Films, is veral opgewonde oor die formaat van die program en het aangedui dat deelnemers se mediakennis sowel as hul mensevaardighede getoets gaan word. Saktyd gaan nie net oor stories skryf nie en deelnemers gaan ook met bekendes, sosiale media en selfs grafiese- en bladuitlegafdeling van Huisgenoot, You en Drum te doen kry.

Christian Lee, beter bekend as Gerdus Lee, seun van Theunis en Annelie Lee van Thabazimbi, sien uit na die nuwe uitdaging in sy loopbaan en beskou dit ‘n voorreg om as een van die dertien finaliste aangewys te wees.

Christian het in 2007 aan HFM gematrikuleer en was gereeld in Kwêvoël met al sy prestasies op sport- en kultuurvlak.

Sy naam is deur sy biologiese ouers aan hom gegee, alhoewel hy steeds Gerdus in sy ID-boekie heet. Hy gebruik die naam Christian vir sy verhoogwerk, mode-werk en ook sy geskrewe werk en gesels gemaklik oor sy biologiese pa wat ook in Johannesburg woon, en van sy ma wat woon in Boston VSA saam met haar man en sy half-boetie Robert en half-sussie Emma. “Albei is nog baie jonk, so dis ‘n fees om hulle te kan sien grootword.” Het hy aan Kwêvoël gesê.

As plaasseun van Makoppa was hy van kleintyd af daaraan gewoond om die eenvoudiger lewe op die plaas te balanseer met die vinnige tempo van die stad, wat hom dus effektiewe tydsbestuur aangeleer het. Laerskool Vanwykskraal het hom sy eerste akademiese treë gegee, terwyl HFM hom later blootgestel het aan kuns, musiek en perde-sport.

Op skool wou Christian alles doen, van argitektuur, tot mode ontwerp, tot joernalistiek en selfs regte. Hy was gereeld in die nuus oor sy prestasies, maar ook sy welwillendheidswerk teenoor die gemeenskap, soos met die besoeke aan minderbevoorregte kleuterskole in Gr9 om opvoedkundige speletjies en liedjies vir hulle te leer. Christian was ook telkemale as HFM se kultuurleerling aangewys en het as redenaar die gehoor aan die brand gepraat. Verder was hy betrokke by drama, hokkie, musiek, PFT Leierskapkursusse, verskeie buitemuurse projekte en was deurlopend in Frikwensies en het tot die viool bemeester. Christian het ook groot spronge gemaak in die perderuiterkompetisies en het al as kommentator by Perderuiterskoue opgetree.

Hy skryf sy groot dryfkrag toe aan sy ouers wat hom gereeld wys gemaak het dat “you can never keep a good man down” en “never say die”. Met dié deursettingsvermoë het hy drama geswot, later film, weer drama en film en opgeëindig met tale en filosofie. Hy is egter trots op sy keuses wat hy in die lewe gemaak het, “dit het my gevorm tot die mens wat ek vandag is.” Het hy aan Kwêvoël uitgewys. Dit het hom geleer om nooit moed te verloor nie, die hoofrede waarom hy reeds op 22 jarige ouderdom in Duitsland gepubliseer is.

Wanneer daar vir Christian gevra word watter werk hy nou eintlik doen, is sy antwoord “wel, ek’s ‘n verkleurmannetjie deur-en-deur, nes ek dink ek’t ‘n niche gevind, spring ek op die volgende een!”

Hy was al betrokke by verskeie verhoog-produksies, voor en agter die gordyn, het al mode-vertonings in SA en Parys, Frankryk vervaardig, was kreatiewe direkteur van ‘n SA mode-huis en het gewerk met absurde-fotografie in mode en kuns. Hy doen ook stilerings- en kunsredigeringswerk en het ook die afgelope maande gewerk aan films saam met Emmy-genomineerde regisseur, John Trengove, foto-joernalis Nadine Hutton en filmmaker Stanimir Stoykov.

As skrywer het hy ook reeds sy eie e-tydskrif, ‘Creature’ gehad en blog gereeld. Hy is reeds met van sy foto-werk in Duitsland gepubliseer, asook in koffietafel-boeke en in DeKat SA.

Tans delf Christian hom dieper in film, met die skep van sy selfgeskrewe werk ‘Vicious Circles’. Hy het ‘n voorliefde vir die absurde, “weird” en donker in kuns en mode.

“Ek hou van donker sjokolade… en steak, en goeie rooiwyn, Janis Joplin, en voor ek vergeet… Madonna!” Kyk uit na hierdie interessante, kunstige en inspirerende jong man in Saktyd, slegs op kykNET, Dinsdagaande vanaf 17 Julie 2012 om 19:30.