R6.6M vir 23ste Wildveiling

SUN CITY – Die Tweede oudste wildveiling in Suid-Afrika van mnr Mike Englezakis naby Sun City het op Vrydag 20 Julie plaasgevind.

Soos in die verlede was die wild van uitstekende gehalte en ‘n uitstekende kondisie weens die feit dat mnr Mike Englezakis al die ondervinding denkbaar het om die wild te versorg en aan te bied. Ook is hy ‘n hoogs gerespekteerde persoon in die wildbedryf. Die wild is gevang deur die vangspan van Mpatamacha wat uitstekende wild hanteerders is. Dus het ‘n groot aantal kopers vanoor die hele land weer die veiling bygewoon.

Selfs ‘n SA rekord is verbeter. ‘n Besonderse njala bul met 30½” horinglengte is verkoop vir R82 000. Pieter Ernst van Bona-Bona Game Lodge by Wolmaranstad, het die bul gekoop. Die vorige rekord was R33 000 wat by Thaba Tholo behaal was.

Die gemiddelde pryse vir die vroulike diere per hokveiling was: 13 blesbokke teen R1700, 15 blouwildebees teen R3557, 14 elande teen R5143, 5 gemsbokke teen R6600, 4 kameelperde teen R14750, 22 koedoes teen R2864, 8+1 njalas teen R6750, 16 rooi ribbokke teen R3331, 31 rooibokke teen R1329, 14 rooihartbeeste teen R4321, 6 sebras teen R4600, 5 swartwitpensverse teen R209 000, 7 volstruise teen R1929, 5 waterbokke teen R3800, 3 split blouwildebeeste teen R30 000, 7 hartwater springbokke teen R11 000, 4 dragtige goue wildebeeskoeie teen R580 000, 13 split goue wildebeeskoeie (dragtig van goue bul) teen R63 846 en 1+1 split blouwildebees + goue kalf (dragtig) teen R425 000. Die manlike diere het die volgende gemiddelde pryse behaal: 8 blouwildebeesbulle teen R3625, 3 volwasse elande teen R9583, 3 volwasse gemsbokke teen R4000, 2 goue wildebeeste teen R475 000, 3 volwasse koedoes teen R8000, 4 njalabulle teen R31 563, 4 rooihartbeesbulle teen R5175, 2 volwasse swartwitpensbulle teen R45 500 en 4 volwasse waterbokbulle teen R7875.

Die totole omset was R6.675 miljoen. Willie Roux was die afslaer.

Mike Englezakis (links) wens vir Pieter Ernst (middel) geluk met sy nuwe aankope, terwyl Willie Roux (regs), Afslaer van Vleissentraal Bosveld wat die veiling aangebied het, bystaan.