Hondesiekte/Distemper – Hoogs aansteeklik en dodelik

THABAZIMBI – Daar is ‘n paar gevalle van Hondesiekte in Thabazimbi gediagnoseer. Dit is ‘n hoogs aansteeklike virale siekte en ongeneesbaar en kom gewoonlik by jong honde voor. Die siekte affekteer die asemhalings stelsel, die gastro-intestinale stelsel asook die senuweestelsel.

Die manier van infeksie is deur inaseming en oordrag deur direkte kontak.

Groot hoeveelhede van die virus kom voor in die afskeidings tydens die aktiewe stadium van die siekte.

Die inkubasie periode (tyd van blootstelling tot kliniese simptome) is 3-7 dae maar kan tot 4 weke wees.

Kliniese tekens sluit in koors, longontsteking met ‘n geel uitloopsel uit neus en oë en gastro-enteritis (diarree). As hulle herstel van die akute fase word dit meestal gevolg deur neurologiese tekens. Honde se spiere kan begin sametrekkings kry, veral die spiere op die kop. Stuiptrekkings kan voorkom.

Diere  gaan deur erge lyding. Aangesien daar gewoonlik geen behandeling / genesing is nie moet hulle meestal uitgesit word.

Die diagnose van hondesiekte kan deur u veearts gemaak word. ‘n Toets (Rapid snap test) kan gedoen word wat in ‘n kort tydjie ‘n resultaat wys.

Hondesiekte kan slegs voorkom word deur ‘n volledige inentings kursus as klein hondjie (6 weke,10 weke en 14 weke) en daarna ‘n jaarlikse enting (booster).

Indien enige vrae moet asseblief nie huiwer om u veearts te kontak nie.

Bron: “Viral diseases of the dog” Prof Remo Lobetti

Deur Drs Mari Naude en Minette Nel, Kransberg Dierekliniek.