Frikkies sorg vir “reuse verrassing”

Deur Johann van Rensburg

THABAZIMBI – Gemeet aan dié woorde in die laaste uitgawe Maandag van Jip, was die wen van Frikkie Meyer oor Ben Vorster vir meer as net Ben Vorster ‘n verrassing.

Dit is effe vreemd gemeet aan die pad wat die Eerstes geloop het vanjaar in die kompetisie. Die tweede NWU-wedstryd was hoeka teen Ben Vorster en na ‘n halftydtelling van 6 – 0 in die guns van die Vossies was ‘n wen nie ‘n uitgemaakte saak nie. Die Vossies het daardie rondte gewen (23 – 5), maar eers in die laaste 20 minute oortuigend gespeel. Frikkie Meyer se volgende “goeie wedstryd” was teen Potch Volkies (21 – 17), wat laasjaar die Beeld-trofee wenners was. In die liga het die Frikkies hul opponente, Ellisras (44 – 13), in ‘n tipiese klipharde wedstryd gewen.

Daarna volg die uitspeel vir die provinsie en Frikkie Meyer kom teen Pietersburg te staan. In ‘n vorige kragmeting het die Pieties daarin geslaag om die Frikkies ore aan te sit met 17 – 10. Hierdie keer was dit egter ‘n perd van ‘n ander kleur en het Frikkie Meyer die wedstryd gewen met 20 -14. Dít was ook vir die verslaggewers van Beeld ‘n “verrassings.

Saterdag 21 Julie breek aan: Limpopo finaal (groot skole) – Frikkie Meyer versus Ben Vorster. Die tafel is gedek vir ‘n goeie wedstryd deur Piet Potgieter se 19 – 18 oorwinning teen Merensky met ‘n strafskop ná die sirene. Om vooraf ‘n wenner te bepaal sou waarskynlik tot baie gesprekke aanleiding gegee het, maar die algemene gevoel was dat Frikkie Meyer ‘n goeie kans staan om die Vossies te troef. Binne die eerste tien minute teken Frikkie Meyer (teen verwagting in) die eerste punte aan na ‘n voorspelerbeweging wat deur Lourens Boshoff afgerond word. Die Vossies teken daarna twee keer punte aan voordat Danie Loots (Wortel) na ‘n puik breekslag van Naudé Koen gaan afrond en die twee bonuspunte byvoeg.  In die tweede helfte, na ‘n drie van Ben Vorster, slaag Wortel met ‘n skepskop; telling 15 – 15. Mauritz van Aswegen druk ‘n drie en Wortel voeg ‘n strafskop en vervyfskop by. Ben Vorster teken nog ‘n drie aan; telling: 25 – 20 in Frikkie Meyer se guns met enkele minute oor.

Een minuut voor die finale sirene teken Ben Vorster ‘n drie aan wat die telling gelykop (25 elk) maak. Marcel Cloete kon nie in die vervyfskop slaag nie, maar die wedstryd was vir alle praktiese doeleindes in die Vossies se sak omdat hul meer drieë as Frikkie Meyer aangeteken het. Daar waar dit saak gemaak het het die Frikkies karakter en deursettingsvermoë getoon. Van die afskop kon Ben Vorster nie beheer nie, die Frikkies voorspelers dra die bal, die finale sirene blaas – amptelike speeltyd is verby … Die voorspelers dwing die strafskop af – en die man van die wedstryd, Danie Loots, klits hom tussen die pale deur om ‘n geskiedenis te maak. Dit is weliswaar nie die eerste wen teen Ben Vorster nie en ook nie die laaste keer dat ‘n Eerste span provinsiale wenners is nie, maar dit is die eerste keer dat ons provinsiale wenners in Limpopo provinsie is.

Die kwalifiserende rondte breek nou aan en die volgende wedstryd is teen Standerton op hul velde. Dit vind op Saterdag 28 Julie plaas en die wedstryd word om 10:15 gespeel. Frikkie Meyer, die afrigters en spanlede spreek hul dank en waardering uit teenoor ouers en die gemeenskap vir hul ondersteuning tot dusver vanjaar. Met u ondersteuning het ons hoogtepunte bereik en sal ons steeds streef na beter prestasie.

 

HFM se Eerste Rugbyspan is die Provinsiale wenners in Limpopo provinsie, agter vlnr: Lourens Boshoff, Danie Loots (O/Kaptein) en Kuifie vd Berg.

Derdery vlnr: Mnr WH du P Erasmus (Adjunkhoof Buite Kurrikulêr), Mnr Johan van Rensburg (Afrigter), Roedolph Human, Berné Milton, Müller Lategan, Jaco Jacobs, Juan Evert, Martini Theunissen, Marcel Evert, Louis le Grange, mnr Chriso Grobler (Afrigter) en mnr Colin Campbell (HFM Hoof). Tweede ry vlnr: Divan Niemann, André le Roux (Kaptein), Dewaldt Havenga, Carl vd Berg, Peet vd Berg, Mauritz van Aswegen en Willie Smit. Voor vlnr: Pieter Ferreira, Bennie du Plessis, Naudé Koen, Stefan van Tonder (bagasiemeester) en Ruan van Greunen. Sien volledige berig binne.