Els direk tronk toe

Jacques Els omhels sy vrou, Christie, kort nadat die hof Maandag gelas het dat hy dadelik sy agt jaar gevangenisstraf moet begin uitdien. In die agtergrond staan Els se regsverteenwoordiger, adv. Tom Dreyer.

Bleek en verslae het Jacques Els en sy vrou, Christie, mekaar styf omhels en vertroos buite die landdroshof in Makhado kort nadat die hof beveel het hy moet dadelik sy gevangenisstraf begin uitdien.

Die 39-jarige Jan Karel Pieter Els, alombekend as Jacques, is reeds in Maart vanjaar tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis. Maandag is sy aansoek om verlenging van sy borgtog, hangende ‘n dringende petisie by die Hooggeregshof in Pretoria teen sy vonnis, deur die hof geweier. Derhalwe is hy direk vanaf die hof na die gevangenis geneem.

Els het op 2 Maart, ingevolge ‘n pleitooreenkoms met die Staat, skuldig gepleit op klagte wat verband hou met die, handeldryf en besit van renosterhorings sonder die nodige permitte. Hy moet ook R1 miljoen aan die Groen Skerpioene betaal.

Verder is Els ook vier jaar tronkstraf opgelê weens die onwettige besit van agt horings van sy eie renosters. Dié vonnis is egter opgeskort. Els is na sy vonnisoplegging in Maart op R300 000 borg vrygelaat, hangende sy aansoek om verlof tot appèl.

Aanvanklik het die klagte teen Els betrekking gehad op 38 renosterhorings, maar die getal is later aangepas tot 30. Volgens die Streekhof was dit die meeste renosterhorings waarvoor iemand tot nog toe aangekla is.

Volgens Els se verduideliking in sy pleitooreenkoms het hy die renosterhorings aangekoop met die oog om dit later te verkoop as die verbod op die handel in renosterhorings gelig sou word. Els het die horings aangekoop van sy medebeskuldigde, wyle mnr. Tom Fourie (51), wat later selfmoord gepleeg het. Die renosters is verdoof en hulle horings is verwyder. Nie een is gedood nie. Els sou later vir bergingspermitte aansoek doen, maar voordat hy kon, is die horings vanuit sy woning in Thabazimbi gesteel.

In sy aansoek om verlof tot appèl het Els se advokaat, mnr. Tom Dreyer, aangevoer dat Els se vonnis “ergerlik” was en dat hy in “toorn” gevonnis is deur die hof. Hy het gesê die hof het ‘n “mistasting begaan” deur nie sekere feite in ag te neem nie en dat die hof meer waarde moes heg aan die feit dat Els ‘n eerste oortreder is. Hy was ook van mening dat die boetevonnis wat Els opgelê is “enorm” was, veral omdat die Staat nie die presiese waarde van die horings kon bewys nie.

Dreyer het ook verder gesê dat die hof te veel waarde geheg het aan verswarende omstandighede, gemeenskapsbelang en media-uitlatings. “U edelagbare, met groot respek, behoort die hof nie ‘n beskuldigde se lot te beslis deur te bou op reaksies en veronderstellings wat in die media ten toon gestel word en voorgehou word nie,” het Dreyer gesê. Hy het afgesluit deur te sê dat ‘n boete met ‘n opgeskorte vonnis ‘n meer gepaste straf sou wees.

Landdros Pat Cloete, wat die aansoek geweier het, het gesê die hof het die aanklagte teen Els ernstiger opgeneem as die Staat en die verdediging. “Die hof is tevrede dat hy die totaliteit van die omstandighede tydens vonnisoplegging in ag geneem het en daarom word appèl geweier,” het Cloete gesê.

Intussen het Dreyer Woensdag bevestig dat Els nog in aanhouding bly. Hulle is besig met voorbereidings vir ‘n dringende aansoek in die Hooggeregshof om Els se borgtog te verleng. Teen druktyd het hulle nog gewag vir ‘n afskrif van Maandag se hofrekord wat ook by die Hooggeregshof ingedien moet word. Ná die dringende aansoek, het Dreyer gesê, gaan hulle ook petisie teen Els se vonnis rig.

Buiten vir sy tronkstraf, loop Els steeds die gevaar dat die Staat op sy bates kan beslag lê. Lede van die Staat se batebeslagleggingseenheid is glo besig om ‘n saak teen Els te ondersoek. (LiN Nuus / Zoutpansberger)