Die groot ysberg

Week 28 – 13 July 2012

 

Angie Motshekga Minister van Basiese Onderwys

Die tragiese onderwys-debakel wat die afgelope paar weke ontvou het is beslis maar net die puntjie van die ysberg wat die hele Suid-Afrika binne ‘n jaar of wat gaan tref.

Gelukkig het die ANC daarin geslaag om hierdie puntjie te identifiseer, naamlik ‘n 44-jarige klerk by die Limpopo-onderwysdepartement. Nadat die bom gebars het oor skoolboeke wat sommer in die veld weggegooi word en waarvoor die einste klerk verantwoordelik gehou word, het hy steeds met sy vernietigingswerk voortgegaan en sommer ‘n klomp boeke by Tzaneen in die rivier gegooi. Bietjie sleg gemik want al die boeke het langs die brug gelê. Kon hy nie na die herrie wat hy man alleen veroorsaak het, sy strategie verbeter, en die goed in die water gegooi het waar niemand dit sou ontdek nie? Soveel chaos en alles blykbaar te wyte aan een enkele persoon.

Gelukkig, met hierdie man agter die tralies is die saak blykbaar vir die ANC opgelos. Zuma se belofte van koppe wat gaan rol is ook maar net praatjies. Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga – president van die ANC vroueliga, en haar man, Mathole Motshekga – ANC hoofsweep in die Nasionale Vergadering, is getroue Zuma ondersteuners en hy benodig hulle steun dringend vir sy herverkiesing. Angie se kop gaan beslis nie rol nie. Zuma sal dit nooit toelaat nie. Gelukkig het hulle ‘n onbenullige klerk gekry wat vir haar sal instaan en sy kop op ‘n skinkbord vir Zuma aanbied.

Tipies van alle kaderontplooiings is die feit dat as jy ‘n probleem lank genoeg ignoreer, bestaan dit nie meer nie. Mens hoef maar net na die plaaslike regerings te kyk om te sien hoe hulle van probleme ontslae raak. Vee dit onder die mat in of stoot hulle huise plat.

Ysberge is iets anders en dit gaan nog ‘n groot verrassing vir die regering inhou. Die grootste gedeelte van die ysberg word deur ‘n donker see bedek, soos die kaptein van die wêreld se grootste, onsinkbare skip, die Titanic, ook maar uiteindelik moes besef. Hierdie bedekte ysberg van swak basiese onderwys is reeds besig om sy vernietigingswerk voort te sit soos die boonste stukkies ys wegsmelt.

Swangerskappe op skoolvlak is besig om hoofberekenings vir die departement van basiese onderwys, die einste departement van Sistha Angie, te veroorsaak. Hulle gaan nou met alle mag inklim en hierdie paar leerders, wat dit nog nie uitprobeer het nie, seksonderrig gee om die probleem van ongewensde swangerskappe die nekslag toe te dien. Om dit te kan doen sal hulle op ‘n vlak moet begin waar die kinders meer nut in ‘n kondoom as ballon sien as ‘n manier om ongewensde swangerskappe te voorkom.

Nog net ‘n manier tot werkskepping. ‘n Paar honderd raadgewers sal nou ‘n kits-program ondergaan en by al die skole op ‘n permanente basis ontplooi word om raad aan die paar oningeligtes te gee, dit terwyl die oplossing hiervoor voor die hand liggend is.

Raak ontslae van die kindertoelaag wat so gemaklik aan alle vrouens toegestaan word as hulle ‘n kind het om voor te sorg. Die meeste van hierdie swangerskappe kan toegeskryf word aan die feit dat R750 per kind, gratis, mahala, baie geld vir ‘n arm skooldogter in kindertoelaag toegestaan word. Ma of ouma sal die kind grootmaak. “Wat maak dit saak of ek verder skoolgaan, ek het nou beheer oor daardie toelaag want dit word direk aan my uitbetaal.” Waar wil jy ‘n groter geelwortel hê om voor ‘n onvolwasse, maar seksueel-ryp tienermeisie se heupe te swaai?

Die saak van die tiener wat die departement van gesondheid wil dagvaar omdat sy haar baba verloor het maak nou sin. Dit is nie die menslike aspek wat intree nie, maar die feit dat sy deur ‘n swangerskap is en nie die vreugde van haar arbeid in terme van ‘n kindertoelaag kan geniet nie.

Steeds baklei die ANC en Cosatu teen die instelling van ‘n loonsubsidie om die produk van die onderwysdepartement, naamlik werklose halfgeletterde jeugdiges, die kans te bied om deur ‘n standvastige werk, arbeidsondervinding op te doen. So kan hulle uiteindelik vir hulself sorg sonder dat hulle in ‘n tou moet gaan staan vir ‘n gebrekkige welsynstoelae.