Categorized | General, Health

Nagmerrie nadat spinnekop baba byt

’n Gesin van Bela-Bela het ’n nagmerrie-week beleef nadat hul baba deur vermoedelik ’n giftige sakspinnekop gebyt is.

Die bytplek aan klein Luané Cloete se beentjie is eers ontdek nadat sy al baie siek was en haar ouers nie meer geweet het watter kant toe met hul siek kind nie.

Luané, wat pas haar eerste verjaardag gevier het, se ouers het op Donderdag, 19 April, ’n vreemde knop agter haar oor opgemerk. Hulle het vermoed dat dit ’n limfnode is. Twee dae later was daar twee sulke knoppe. Hulle het bekommerd begin raak en op die internet begin rondlees oor limfnodes.

Die Maandag was Luané effens koorsig. Haar pa het ’n dokterspreekkamer op die dorp gebel, maar kon nie ’n afspraak vir die Maandag kry nie. “Ek het toe raad vir haar koors en ’n afspraak by ’n pediater vir die volgende oggend by die Pretoria Oos-hospitaal in Pretoria gekry,” het hy aan Die Pos gesê.

Dié oggend het hulle ’n bytmerk op Luané se been gesien wat net ’n bietjie groter was as ’n muskietbyt. Die pediater, dr. Liezl Venter, het vermoed dis ’n spinnekopbyt.

Sy kon egter nie bevestig watter soort spinnekop dit was nie, aangesien Luané teen daardie tyd nog nie ernstige simptome getoon het nie. Die dokter het nogtans bloedtoetse en ’n buiksonar laat doen.

Hoewel daar geen teken van ’n bakteriële infeksie was nie, was Luané se witbloed- en plaatjietelling hoog, wat volgens die pediater ’n aanduiding was dat haar liggaam besig was om teen ’n infeksie te veg.

Die dokter het hulle na ’n pediatriese chirurg by die Kloof Medi-Clinic verwys om ’n biopsie te doen, waar hulle die knoppe onder narkose sou verwyder om te probeer vasstel wat die oorsprong daarvan was. Sy was volgens die Cloetes baie bekommerd omdat die knoppe harder as normaal gevoel het en nie beweegbaar was nie.

Die Woensdag is die ouerpaar terug na die chirurg toe, wat aanbeveel het dat hulle eers nog so ’n week of wat wag voordat die biopsie gedoen word.

Op pad terug huis toe, was Luané se koors egter skielik meer as 40°C en sy het sommer baie siek gelyk. Sy het lam voorgekom en gesukkel om haar oë oop te hou en vreeslik begin huil. Cloete het weer die spreekkamer op sy tuisdorp gebel, maar kon eers ná vieruur die middag ’n afspraak kry. Hy het uit radeloosheid weer die pediater gebel en toe hy hoor sy is by die Pretoria Oos-hospitaal by die ongevalle-eenheid aan diens, het hy net daar omgedraai en teruggery Pretoria toe.

Die bytmerk het intussen binne ’n kwessie van ure drie keer groter geword, en die plek was ook skielik warm en donkerrooi. Die dokter aan diens het bevestig dat dit ’n spinnekopbyt was, en het medikasie voorgeskryf.

Wéér is hulle terug huis toe. Die volgende oggend, Donderdag, 26 April, het Luané egter wéér hewige koors gekry en aanhoudend opgegooi. Die bytmerk op haar been het intussen net al groter geword. Die salf wat voorgeskryf is, het ’n bloupers kleur gekry, en die wond het blasies begin vorm.

Op dié punt het die egpaar die hulp ingeroep van mnr. Trompie Jonker van Tromar Ambulansdienste op Bela-Bela, vir raad. Jonker het gemeen die bytplek lyk soos dié van ’n sakspinnekop en het hulle na die Muelmed-hospitaal verwys en ook gereël dat hulle ’n dokter daar kan sien. By Muelmed is hulle egter terugverwys na die Kloof-hospitaal.

Die pediatriese chirurg wat haar daar gesien het, prof. Martin van Niekerk, het die baba dadelik laat opneem.

Die hospitaal-personeel het intussen ’n tweede merkie op Luané se been opgemerk, wat ook vinnig groter geword het. ’n Pediater van die Unitas-hospitaal, wat kennis het van spinnekopbyte, is deur die chirurg ontbied vir ’n tweede mening.

Ná deeglike ondersoeke is Luané onder meer met sterk antibiotika en celestamien behandel, wat genadiglik gekeer het dat ’n abses ontstaan of ernstige weefselskade intree.

Sy kon die volgende dag ontslaan word. Luané was intussen weer by die dokter en dit lyk asof sy baie mooi herstel. Die knoppies aan haar kop is ook kleiner, en daar word vermoed dat dit ontstaan het weens die spinnekopgif.

Volgens Cloete het die dokters wat Luané behandel het, gesê dat dit danksy haar ouers se vinnige optrede is dat sy nie ernstige weefselskade aan haar been opgedoen het nie.

“Ons kan nie genoeg dankie sê vir die wonderlike dokters in Pretoria, Trompie en die hele gemeenskap van Bela-Bela vir hul bystand en gebede nie,” het hy aan Die Pos gesê. — LiN Nuus/Die Pos

 

(ekstra storie)

Volgens internet-bronne oor spinnekoppe,  is die sakspinnekop verantwoordelik vir die meeste spinnekopbyte by mense.

Hulle gif is sitotoksies, wat beteken dat die gif op die wond self inwerk, en selle en weefsel vernietig. Die bytplek vorm ook blase.

Die sakspinnekop is valerig tot liggroen, en die algemeenste soort wat in huise gevind word. Hulle het opmerklike lang voorpote wat vorentoe wys. Hulle is lief daarvoor om in gordyne, lakens en sagte materiaal soos beddens te kruip. Die sakspinnekop se byt is aanvanklik pynloos, maar die gif veroorsaak ’n abses. In uiterste gevalle sweer die wond en is ’n veloorplanting nodig. Nog simptome sluit in hoofpyn en koors. Die bytplek is gewoonlik aanvanklik sigbaar as twee gelerige knoppies.

Kundiges maan egter dat mense nie spinnekoppe voor die voet moet doodmaak nie, omdat veral die sakspinnekop eintlik baie waardevol is vir boere, want hulle help met pesbeheer.  — LiN Nuus/Die Pos

 

One Response to “Nagmerrie nadat spinnekop baba byt”

  1. Irene says:

    2 weke terug het spinnekop my gebyt, het gedink dis a bloedklont. Dr sgee antibotika die knop het baie kleiner geword maar sit nog daar, hoe lank voor dit weggaan

Trackbacks/Pingbacks


Leave a Reply

Download Die Kwêvoël in PDF

List your business free

Thabazimbi Business Directory

Follow us on Facebook

Top content

Ads

Archives

May 2012
M T W T F S S
« Apr   Jun »
 123456
78910111213
14151617181920
21222324252627
28293031