THABAZIMBI – In ‘n onlangse leserspeiling het Kwêvoël die lesers gevra wat hulle meer in die koerant wil lees. Hulle kon kies ondermeer tussen sport, misdaad, gemeenskapsnuus en kultuur. Die meerderheid lesers hunker na meer kultuur aangeleenthede aangesien hulle voel dat die ligging van Thabazimbi hulle kulturele groei ondermyn.
‘n Klein juweel in Eerstelaan, die KunsteGrot, bied onder die bekwame leiding van Rita Volschenk, een of ander vermaaklikheidsgeleentheid op ‘n maandelikse basis aan. Hetsy ‘n verhoogproduksie, kunsuitstalling of kunstenaar wat die dorp laat gons, beoog hierdie “een aand in ‘n maand” om die gemeenskap van Thabazimbi se kultuurgogga ietwat te sus.
Weereens het Rita, in samewerking met Pick ‘n Pay Thabazimbi, dit reggekry om op Donderdagaand 12 Januarie die nuwejaar met ‘n vonk af te skop met ‘n gesellige wynproe asook ‘n kunsuitstalling van die bekende Gerrit Pitout.
Bekende en nie-so-bekende landgoedwyne is vir die wynproewers aangebied. Van Chardonnay, Sauvignon Blanc, Merlot, Pinotage, Cabernet Sauvignon, Shiraz tot selfs semi-soet wyne se proppe is getrek en kon saam met die heerlike eetgoedjies, spesiale gekeur om spesifieke geure van die wyne te komplimenteer, genuttig word. Pick ‘n Pay Thabazimbi se eienaar, Francois Swart, het genoem dat hulle in die proses is om ‘n wynklub te stig vir die gemeenskap. Hulle is tans doenig met marknavorsing en beoog om die klub binne die volgende ses maande op die been te bring.
Die landskapskilder en fotograaf Gerrit Pitout het tussen die gaste rondbeweeg terwyl sy kuns prentjie mooi rondom die feestelike tafels uitgestal was.
Nuwe borgskappe, onder andere Thaba Tholo en Pick ‘n Pay, sal ook met hul finansiële ondersteuning toesien dat die KunsteGrot se deure vir nog ‘n jaar oop sal wees.
Die volgende verhoogproduksie is op 25 Februarie wanneer Elsabé Zietsman haar bekende Dis Koue Kos Skat op die planke gaan bring. Kaartjies is reeds beskikbaar. Vir alle navrae en besprekings, skakel Rita by 083 7448559 of e-pos rivol@telkomsa.net


