Categorized | General

Prysvergelyking: Eiendomme

Is Thabazimbi ‘n duurder plek om wortel te skiet en huis te koop as Tzaneen? Sou jy dalk eerder jou hand aan die ploeg wou slaan en jou eie stukkie Afrikagrond te bewerk en nou wonder jy hoe vergelyk plaaspryse in die provinsie?

As deel van LiN Media se nuwe inisiatief om op gereelde basis prysvergelykings ten opsigte van dienste en goedere tussen Louis Trichardt, Tzaneen, Mokopane, Lephalale, Bela-Bela, Thabazimbi en Hoedspruit te doen, is daar besluit om weg te spring met ‘n prysvergelyking ten opsigte van huis- en plaaspryse. Dié dorpe word almal bedien deur publikasies soos die Zoutpansberger en Die Kwêvoël binne die LiN Media groep.

‘n Vergelyking is gedoen ten opsigte van gemiddelde verkooppryse, alhoewel daar in ag geneem moet word dat faktore soos ligging en boukwaliteit prys beïnvloed. So sal ‘n drie slaapkamer huis met ‘n uitsig oor die Tzaneendam jou heelwat meer uit die sak jaag as ‘n drie slaapkamer huis met ‘n uitsig oor die plaaslike spoorwegstasie of sjebien.

Volgens Barend Gerber van Bertie Joubert Eiendomme op Thabazimbi het elke dorp ‘n unieke mark wat elke eiendomsagent behoort te verstaan. ‘n Gemiddelde huisprys is baie moeilik om te bepaal aangesien verskeie faktore ‘n rol speel, soos: huisgrootte, area, afwerking, algemene toestand, tuin, grootte van erf, beskikbaarheid en dies meer. In Thabazimbi is huispryse taamlik hoog omdat daar min huise beskikbaar is vir die verkoop en omdat die verhuringsmark verskriklik goed is. ‘n Gemiddeld kan slegs bepaal word as die huise wat wel verkoop is die afgelope twee jaar in berekening gebring word en daarvolgens gewerk word.

Volgens Gwen Loots van Realty 1 op Louis Trichardt verkoop een-slaapkamer woonstelle vir ‘n gemiddeld van R520 000 (ligging in ag geneem). Dit vergelyk goed met Lephalale se R500 000 en hoër, aldus Marie Kruger van PropRite. Volgens Annelie Botha van Aïda op Bela-Bela kan jy hier wegkom vir ‘n R100 000 goedkoper (R400 000) terwyl Petrie Bezuidenhout van Aïda op Thabazimbi sê dat hierdie eiendom jou gemiddeld so R480 000 uit die sak sal jaag en huurders sowat R3350 per maand opdok. Barend beaam dié gemiddeld, maar voeg by dat indien die een slaapkamer woonstel deel is van ‘n woonstelgebou, wissel dit vanaf R300 000 tot R400 000, afhangende van hoe luuks die woonstel is en in watter area dit is.

Op Mokopane reken Johan Spies van Sue Eiendomme die gemiddelde prys is sowat R320 000. Op Tzaneen het een agentskap, Pam Golding, die gemiddelde prys gelys as R215 000, alhoewel Acutts aangedui het hul laaste een-slaapkamer woonstel het verkoop vir R420 000; bygesê, dit was in ‘n luukse woonbuurt. Deur die bank blyk daar egter ‘n tekort te wees aan een-slaapkamer woonstelle op dorpe.

Die gemiddelde pryse van twee-slaapkamer woonstelle/huise wissel tussen R500 000 en R700 000, met gemiddelde pryse van R500 000 (Mokopane), R580 000 (Louis Trichardt), R620 000 (Lephalale), R650 000 (Bela-Bela) en R500 000 tot R680 000 op Tzaneen. Slegs Thabazimbiërs betaal ‘n hoër prys met ‘n gemiddeld van R700 000 terwyl huurders tussen R4500 tot R5000 per maand betaal. Indien die tweeslaapkamer woonstel in ‘n kompleks is, wissel die prys vanaf R450 000 tot R600 000 afgehangende van die area. Volgens Barend Gerber van Bertie Joubert Eiendomme op Thabazimbi het afronding en addisionele aanbouings soos swembaddens en lapas ook ‘n effek op die prys.

Die prys van drie-slaapkamer huise is op hulle beurt almal in die omgewing van R800 000, met Mokopane waar dit verkoop vir ‘n gemiddeld van R780 000, Tzaneen (R700 000 tot R800 000), Louis Trichardt (R850 000) en Lephalale (R850 000). Thabazimbi en Bela-Bela betaal gemiddeld R900 000 vir so ‘n eiendom. Volgens Barend wissel die drie slaapkamer huise in die ou gedeelte (Iscor huis) vanaf R700 000 tot R850 000. Afhangende van hoe goed die eiendom opgepas is en of daar al verbetering op gedoen is en indien die motorhuise in woonstelle omskep is. Hy sê verder dat drie slaapkamers in gevestigde sekuriteitskomplekse se pryse wissel van R850 000 tot R1 miljoen, afhangende van in watter kompleks die huis geleë is.

In die luukse mark sukkel huispryse in elke dorp blykbaar om die R2 miljoen kerf te breek. Volgens dr. Suwil Rudolph, ‘n professionele waardeerder van Louis Trichardt, speel vraag en aanbod hier ‘n groot rol. Hy verduidelik dat alhoewel ‘n huis dalk R5 miljoen werd kan wees, kopers nie noodwendig bereid sal wees om dit te betaal nie.

Op Louis Trichardt, sê Loots, verkoop wonings in luukse buurte vir ‘n gemiddeld van R2 miljoen. Op Thabazimbi betaal kopers in so ‘n buurt tussen R1 300 000 en R2 miljoen, aldus Aïda se Petrie Bezuidenhout.

Barend voeg by dat hierdie eiendomme insluit wat geen herstelwerk nodig het nie en beskik oor ‘n erf wat nie kleiner as 1000m² is nie.

Op Tzaneen wissel pryse vir luukse wonings tussen R1 miljoen en R1,5 miljoen en op Bela-Bela in die omgewing van R1,6 miljoen. R1,3 miljoen blyk die gemiddelde prys te wees wat kopers bereid is om te betaal op Mokopane, Lephalale en Thabazimbi.

Plaaspryse is ietwat meer gekompliseerd as dit kom by prysbepaling. Hier speel ligging alleen nie so ‘n groot rol nie, maar ook in welke mate die plaasgrond ontwikkeld is, estetiese waarde het en natuurlik of water beskikbaar is. Wat “ontwikkeld” betref, het dr. Rudolph gesê daar is verskillende klasse van ontwikkeling en daarom is dit moeilik om ‘n deur-die-bank gemiddelde prys per hektaar te gee. Sy pryse is derhalwe bereken op “onontwikkelde” landbougrond.

Volgens Rudolph beloop die gemiddelde prys per hektaar vir beesweiding in die Soutpansberg tussen R3 000 en R4 000. Wildomheinde grond verkoop vir ‘n gemiddeld van tussen R4 000 en R6 000, terwyl besproeiingsgrond wissel tussen R40 000 en R60 000 per hektaar, afhangend van ligging en die beskikbaarheid van water.

Volgens Hester Viljoen van Afrika Eiendomme in Thabazimbi, is hierdie eintlik wild wêreld. Die gesogte ligging van Thabazimbi (sowat 2 ure per voertuig vanaf Pretoria), speel ‘n groot rol in die “verskriklike” plaaspryse.  Kleingrond is ontsettend groot in vraag, maar klein in aanbod. Die naweekboer verkies kleingrond (sowat 80HA) naby die stad, aldus die hoë prys op plase in die omgewing. Vir ‘n ontwikkelde plaas (wildwerend omhein met boorgat), kan dit die voornemende koper normaalweg tussen R8000 en R12 000 per hektaar uit die sak jaag, indien daar ‘n netjiese woning met slaggeriewe op is, kan die prys per hektaar verdubbel, afhangende van die ligging en grootte van die plaas.

Besproeiingsplase beloop sowat R35 000 per hektaar indien daar ongeveer 100HA onder besproeiing is. Maar kan tot R120 000 per hektaar verkoop, maar dan is dit slegs vir die gedeelte onder besproeiing en nie vir die res van die plaas nie, aldus Nico Kruger van PropRite op Lephalale.

Op Mokopane wissel plaaspryse ook, afhangende van die ligging. Roedtan se kant toe, waar daar nie baie water is nie, is die gemiddelde prys so tussen R8 000 en R11 000 onontwikkeld en R11 000 tot R14 000 per hektaar ontwikkeld. Aan Sterkrivier se kant, waar baie water en goeie saaigrond is, beloop die prys sowat R19 000 per hektaar ontwikkeld.

Lephalale se grond is hoofsaaklik wild- en beesplase. Daar is onontwikkelde grond, maar dit is beesgrond wat verkoop tussen R5 000 en R6 000. Wildplase wat omhein is met goeie wild en herbergfasiliteite verkoop tussen R8 000 en R10 000 per hektaar. Kleiner plase naby aan dorpe, soos elders in die provinsie, verkoop ook vir duurder as groter plase in die middel van nêrens.

Volgens Nico Kruger van PropRite op Lephalale speel herberg op wildplase ‘n groot rol. Hy verduidelik dat twee wildplase, ewe groot met min of weer ewe veel wild en waterpunte, se pryse wesenlik kan verskil as een net ‘n ou plaashuis op het en die ander een ‘n luukse lodge met borrelbaddens, tennisbane en ‘n jagkamp. Een agent op Mokopane, wat nie sy nek te veel wou uitsteek nie, het onder meer opgemerk dat bankwaardasies in hierdie opsig nogal tot frustrasie kan lei, aangesien banke glo net die grond waardeer en nie die verbeterings.

Nog ‘n faktor wat kopers in ag moet neem, is agentekommissie. Dit is egter duidelik dat die 8% wat agente graag sal wil ontvang, selde materialiseer. Volgens terugvoer wat van agente ontvang is blyk 5% tot 7,5% meer realisties te wees. Meeste agente is ook bereid om oor die agentekommissie te onderhandel.

Volgens Bertie Joubert Eiendomme beding hulle eerder laer kommissie as om ‘n koop te verloor.

Jana Reinecke Eiendomme van Thabazimbi maak ook gebruik van ‘n verwysingskommissie, wat beteken dat die persoon wat hulle verwittig van ‘n voornemende koper, ook ‘n deel van die kommissie kan ontvang, mits die voornemende koper se kooptransaksie by Jana Reinecke Eiendomme suksesvol deurgevoer word.

Comments are closed.

Download Die Kwêvoël in PDF

Follow us on Facebook

Top content

Recent Comments

    List your business free

    Thabazimbi Business Directory

    Archives

    July 2011
    M T W T F S S
    « Jun   Aug »
     123
    45678910
    11121314151617
    18192021222324
    25262728293031