Lintwurms kom voor in mense en diere en kan ‘n ekonomiese impak op albei hê.
Lintwurms het ‘n indirekte lewenssiklus, wat beteken hulle het twee gashere: ‘n finale- en tussengasheer. Die lewenssiklus van alle lintwurms volg dieselfde patroon, maar die gashere van die verskillende spesies verskil.
Die volwasse lintwurm kom in die finale gasheer voor en die larf of sist vorm in die tydelike gasheer. Lintwurms absorbeer hulle voedingstowwe uit die gasheer se dermkanaal deur diffusie.
‘n Volwasse lintwurm bestaan uit ‘n kop (skolex) wat aan die dermwand vasheg en die segmente wat uit die kop groei. Lintwurms is plat en hulle lengte wissel van 1mm tot 15m.
Die segmente van die wurm bevat manlike en vroulike geslagsdele en die wurm groei deur sy segmente te vermeerder. Namate die segmente aangroei, vul dit op met eiers. Die segmente met die eiers breek dan af en word in ontlasting uitgeskei.
Die eiers beland op gras en die tussengasheer neem dit in wanneer hy eet, waarna die lintwurm-embrio dan uitbroei en die dermwand van die tydelike gasheer penetreer. Die embrio word dan deur die bloedstroom na die ‘n spesifieke weefsel vervoer (brein of lewer) waar die embrio ‘n sist vorm. Die finale gasheer sluk die embrio in wanneer hulle die vleis eet wat met die siste besmet is.
Lintwurms word in drie groepe verdeel, afhangend van hulle finale en tydelike gashere. Ons kry plantvreter -, vleisvreter- en menslike lintwurms. Plantvreter-lintwurms kom voor by diere soos beeste. Hulle word melk-lintwurms genoem (monezia benedeni). Die tussengasheer van die melk-lintwurm is ‘n mikroskopies klein orbatid-grondmyt.
Beeste kry dié myte in wanneer hulle wei. Die grootste impak van hierdie lintwurmbesmetting sien ons by kalwers. Omdat hulle die voedingstowwe wat die kalf veronderstel is om op te neem deur die dier se dermkanaal onderskep, verhonger die diere. Hulle verloor kondisie, het ‘n boepens en die vel se hare val uit.
Om lintwurms te voorkom, moet koeie en kalwers voor speentyd en dan weer op speentyd gedoseer word met ‘n kombinasiemiddel soos Eradiworm, wat Prazikwantel en Levamisool bevat, of ‘n suiwer produk soos Ecotel, wat net Prazikwantel bevat. Kalwers moet weer met speentyd behandel word.
‘n Produk wat Prazikwantel bevat sal verseker dat sowel die liggaam as die kop van die lintwurm vernietig word. Indien die kop agterbly, sal die wurm weer groei en die lintwurmprobleem sal hom gou herhaal.
In die groep vleisvreter-lintwurms is daar twee soorte wat beeste kan aantas: tenia multiceps en tenia hydatigena. Beeste en skape is die tydelike gasheer van hierdie groep en huis- en wildehonde die finale gasheer. Beeste kry die lintwurmeiers in deur weiding waarop besmette honde ontlas het. Afhangende van die spesie lintwurm kan die siste in die brein, lewer, longe of spiere voorkom. Honde word op hulle beurt besmet wanneer hulle vleis vreet wat siste bevat.
Boere kan verliese ly omdat diere wat met lintwurms besmet is by die abbatoir afgekeur sal word. Mense kan ook die tydelike gasheer van dié wurm wees en hulle gesondheid kan ook geraak word. Die siste kan skade aan die lewer, longe en brein van ‘n mens aanrig, wat lewensgevaarlik kan wees.
Ontwurm almal in die huis of op die plaas gereeld om lintwurms te voorkom.
Afvalvleis vir honde moet ook deeglik gekook word.
Die mens-lintwurm in die groep is Tenia saginata. Die volwasse lintwurm kom in die derm voor en kan geweldig lank word en plek in die derm opneem. Deur aan almal op die plaas toilette te verskaf kan ook die voorkom van lintwurms teenwerk.
Dr Charles Gilfillan BSc(Agric) BVSc(Hons)


Ek het Dexter beeste gekoop. Ek merk dat die bul se pens al groter word. (nee hy is nie dragtig nie
) Hulle loop tans in ‘n droe gras kamp en word bone hooi gevoer. Die lek wat ek gebruik is Lubern se winterlek 40%. Ek gooi nou ook HYPO in die water omdat ek bang is vir opblaas. Die bul lyk andersins gesond. Die koeie is dragtig en daarom kan ek nie sien of hulle ook sulke boepens beessies is nie. Gee asb raad. Die man by wie ek hulle gekoop het, het nooit vir enige siektes op parasiete gespuit nie. Net bosluisbeheer toegepas. U kan my asb per epos antwoord. Dit word waardeer.
Middag,
Is die bul positief vir die “bulldog geen”. Is hy getoets?
Groete
Danie